Chantelle van Wyk
“My naam is An-Mari do Carmo en ek het in ‘n kultus grootgeword.”
Geen televisie, interaksie tussen seuns en meisies of kontak met mense buite die sendingstasie word toegelaat nie.
Jy mag nie grimering, denimbroeke of juweliersware dra nie.
Jy moet ten minste een maal ‘n week by ‘n berader gaan bely.
Jy moet anders as die wêreld wees.
An-Mari do Carmo het op 26 September by DF kom besoek aflê om haar eerste roman, Toe als groen was, met ons skool te deel.
Toe als groen was, is geïnspireer deur An-Mari se eie lewensverhaal en ervaringe binne ‘n kultus. Sy het haar storie met die gehoor gedeel wat met ongeloof na die belaglike, eindelose lys reёls wat sy moes volg, geluister het.
Haar boek vertel die storie van ‘n 18-jarige meisie, Marné, wat vanuit die kloue van die Sederboom Sendingstasie ontsnap het om beheer oor haar eie lewe te neem, terwyl haar jonger sussie nog steeds in die Sending vasgekeer is.
Marné vind skuiling by haar tannie in Klerksdorp en probeer normaal wees, maar sy ís anders en voel soos ‘n legkaartstuk wat in die verkeerde boks geplaas is. Sy baklei daagliks teen die Sending se breinspoeling en sweer dat sy nooit weer haar voete in ‘n kerk sal sit nie, aangesien sy God nooit tevrede kan stel nie en Sy eindelose reёls kan volg nie. Ten spyte van haar beloftes begin sy om God se woord in ‘n ander lig te sien.
Toe als groen was is ‘n merkwaardige roman wat op elke mens se leeslys moet verskyn. Dis ‘n storie van dapperheid, liefde, om jou vrese te oorkom en ‘n ontdekkingsreis van God se woord en wie Hy is.