ʼn Onderhoud met die meesterbreine agter DF Gaming

Dirk Hagen

Talle Dee-Effers het die afgelope Desember-vakansie verkies om in hul  vrye tyd in die virtuele woud van rekenaarspeletjies en aanlyn kletskanale te baljaar. Sedert die inisiatief, DF-gaming, geloods is, het dit summier die virtuele tuiste geraak van ieder en elk wat hulself met blou vereenselwig. 

Dié baanbreker-idee, wat onteenseglik die eerste van sy soort is, is eers deur ‘n matriekleerder, Frikkie Knoetse, voorgestel. Die gloeilampidee het posgevat terwyl Frikkie en Jordan Heyman, ʼn graad 11-leerder,  besig was om Age of Empires te speel. Die droom was dat meer mense hierdie speletjie saamspeel. Hulle het egter vinnig besef dat daar nog nie so ʼn inisiatief bestaan wat hierdie droom vasvang nie. Frikkie en Jordan het kragte saamgespan met nog ʼn graad 11-leerder, Danté van Wyk, om DF-gaming op die been te bring. Dié drie geesdriftige pioniers van DF-gaming, Jordan Heyman, Frikkie Knoetse en Danté van Wyk, het lang ure ingesit om hul droom te verwesenlik.  

Danté en Jordan se liefde vir die aanlyn wêreld het definitief sy oorsprong in hulle tjokkerdae. Danté se ouers het vir hom en sy broer ʼn Playstation 2, ʼn videospeletjiekonsole, aangekoop en die twee is betower deur die wonders van die virtuele wêreld. Verder het sy tablet waarop hy die bekende videospeletjie, Minecraft, gespeel het, sy passie aangevuur. Jordan het sy avonture in die videospeletjie-wêreld op die ouderdom van 11 afgeskop. Hy het onder andere Minecraft, Halo 3, Forza Horizon en ander bekende titels op sy Xbox 360 gespeel.

Jordan het in September 2022 die voortou geneem deur ’n Discord–server te skep. Na gedagtewisselings met onder andere meneer Mells en mevrou Soloman, het die visie gerealiseer. “Ons het geen groot teenstand gehad nie, maar dit het baie lank gevat, wat ons grootste ongerief was,ˮ verduidelik Jordan oor hoe die proses verloop het.  

Intussen het die span uitgebrei van sy oorspronklike drie leerders na ʼn administratiewe span van vyf. Meneer Wouter Theron, DF se IT-onderwyser, en Dirk Hagen, ‘n gr. 11 -leerder, het by die oorspronlike drie pioniers aangesluit. 

Die platform, Discord, is gekies aangesien dit die populêrste en gerieflikste aanlyn platform is vir spesifiek videospeletjiespelers en alreeds deur ’n groot aantal Dee-Effers gebruik word.

Danté en Jordan moes hare op hul tande hê gedurende die eerste maand. “Op die eerste dag het ons twee vir twee ure gesit om die stroom van mense in te laat. Na vier dae het dinge rustiger begin raak, maar daar was nog steeds baie werk wat voorgelê het,ˮ getuig Danté en Jordan stem heelhartig saam. 

Tydens hierdie onderhoud, het DF-gaming meer as 130 lede gehad. “Hierdie idee van ons was baie suksesvol in ons oë, aangesien ons meer as 130 lede het. Dit is regtig ʼn droom wat waar geword het,ˮ vertel die twee trots. 

Die DF-gaming span is baie entoesiasties en kyk met blink oë na die toekoms. Op die korttermyn wil hulle meer aktiwiteite in die server stig, soos movie nights en gaming nights. Op die langtermyn beplan hulle om toernooie te hou en indien dit moontlik is, wil die lede teen ander skole kompeteer. Hulle bou inderdaad nie lugkastele nie en die inisiatief is goed op dreef. 

Vir interessantheid het ek die twee gevra wat hulle  gunsteling-videospeletjie is. Danté en Jordan het beide harde bene gekou met hierdie vraag. Danté het op die ou einde toegegee dat Portal 2 sy oogappel isJordan het weer verduidelik dat sy gunstelingspeletjie wissel van tyd tot tyd, maar tans laat Overwatch 2 sy tone krul.

Baie sterkte aan hierdie twee pioniers van DF-gaming

Vir enige navrae, kontak gerus [email protected].