[Athalia Nel]
Daar is baie gebiede in Suid-Afrika wat gewilde besienswaardighede vir toeriste is. Waenhuiskrans en die Elgin-spoorwegmark is voorbeelde hiervan. Een van die redes vir hul gewildheid, is natuurlik hulle ryk geskiedenis.
Die geskiedenis van Waenhuiskrans (Arniston)
In 1815 het ’n skip genaamd die Arniston naby die kus van Waenhuiskrans gestrand. Die kaptein het geen toerusting gehad om lengtelyne te bepaal nie, so hy het gedink die skip was by die Kaap, maar duidelik was hy verkeerd.
Net ses mense van die hele skip se bemanning het die ramp oorleef en het vir ’n paar weke, net van hawermout, in ’n grot gelewe. Twee maande later het die skip op die strand uitgespoel en daar is ’n veiling gehou van alles wat die inwoners van Waenhuiskrans op die skip kon kry. Daar is ook ’n gedenkplaat gebou om die vier oudste seuns van die luitenant van die skip te eer. Die naam van die skip het ’n nuwe naam vir die klein dorpie besorg, alhoewel die naam Waenhuiskrans steeds dikwels gebruik word.
Geskiedenis van die Elgin-spoorwegmark
Alhoewel die mark nie so ‘n diep geskiedenis het nie, is dit steeds ’n baie gewilde en interessante bestemming. Dit is in 1940 deur Italianers gebou en is nog steeds ’n treinstasie wat op naweke van Kaapstad tot Elgin en terug ry. Die gebied waarin die mark gehou word, het ’n steampunk-gevoel.
Die mark is een van die grootste besienswaarighede in die area – dit het tonne stalletjies met kos, drinkgoed en winkels met klere, juwele en selfs antieke items. Wees net gewaarsku dat enige iets wat jy daar koop beslis nie ‘n winskopie gaan wees nie, maar die ervaring is steeds elke sent werd.
Die geskiedenis van die Kasteel de Goede Hoop
Die kasteel in sy eerste vorm was ’n basiese fort van hout en klei deur Jan van Riebeeck gebou toe hy vir die eerste keer in die Kaap geland het. Tussen 1666 en 1679 het die DEIC (Dutch East India Company), deel van die speseryemark van daardie tyd, die kasteel herbou met sterker materiale as ’n basis vir skepe omdat daar gerugte van ’n broeiende oorlog was.
Die herbouing van die kasteel is dikwels gestaak omdat die DEIC nie geld wou uitgee vir die projek nie. Op 29 April 1679 is die torings van die Kasteel vernoem na die vyf mees algemene name van Willem III. Die Kasteel is in 1936 as ’n historiese monument verklaar en is vandag ’n gewilde besienswaardigheid van Kaapstad, asook een van die mees gepreserveerde geboue van die 1600’s.
Die geskiedenis van die Hugenote Monument
Die monument is opgerig ter herinnering aan die Franse vlugtelinge wat na Suid-Afrika gevlug het omdat hulle in Europa vir hul geloof vervolg is. Die Hugenote Museum daar naby is ’n uitstalling van hulle geskiedenis.
Die museum en monument is albei in Franschhoek. Dit is Suid-Afrika se eerste parfuum-museum en het verkillende toerroetes. Dit is ’n gewilde toeristetrekpleister as gevolg van die ryk geskiedenis en erfenis.
Ten slotte kan daar gesien word dat daar vele interessante plekke in Suid-Afrika is met ’n ryk geskiedenis, wat ook toeristetrekpleisters is. Dit is baie vermaaklik om hierdie plekke te besoek en dit kan ’n goeie herinnering aan ons kultuurerfenis wees.
Athalia Nel
Athalia is ‘n graad 8-leerder wat hou van koffie en sjokolade en in haar vrye tyd doen sy graag navorsing oor verskillende temas. Een van haar grootste belangstellings is kwantum meganika.
