‘n Vrees vir getalle: wiskunde-angs 

[Caylin Parker]

Het jy al ooit gevoel asof jy alles vergeet sodra daardie wiskunde-toets voor  jou neergesit word? Asof die oomblik wanneer jy daardie eerste vraag sien, al die meetkundereëls net besluit het om by jou een oor in te gaan en by die ander oor uit? 

Dit is, sonder twyfel, ‘n gevoel van magteloosheid wat jou oorweldig. Ek is seker die meeste van ons het al iets soortgelyks ervaar. Wat die meeste leerders nie weet nie, is dat daar ‘n term is vir hierdie vrees van getalle, naamlik wiskunde-angs. 

Die meeste mense sal dink dit is ‘n wolhaarstorie as jy vir hulle vertel dat jy aan wiskunde-angs lei. Vanselfsprekend klink dit asof jy een of ander vorm van aandag soek. In ‘n Maroela Media-artikel sê Deb Russel: “Wiskunde-angs kan met verhoogvrees vergelyk word.” Vrees roep onsekerheid in ‘n mens op. Die vrees dat jy nie genoeg tyd gaan hê om die vraestel te voltooi nie of dat jy al jou leerwerk gaan vergeet. Volgens 

theneurodivergentbrain.org beïnvloed stres jou brein op ‘n negatiewe manier en ook die manier hoe jy dink. Stres beïnvloed ‘n sekere deel van jou brein wat lei tot die vrystelling van kortisol en aktiveer die simpatiese senuweestelsel. Die afskeiding van hierdie negatiewe hormoon, veroorsaak stres wat kan lei daartoe dat jy al jou leerwerk vergeet of soos wat ons generasie dit noem, ‘n blank slaan. Dit kan as alledaagse chroniese stres gesien word, so hoe weet ons dat dit spesifiek wiskunde-angs is? 

Volgens Lomi.co.za lê wiskunde-angs se oorsprong dikwels by negatiewe  ervarings van wiskunde en ook gewoonlik by die oorvertrou om die metodes  te memoriseer, eerder as om te verstaan hoe om dit toe te pas. In die wêreld waar ons vandag grootword, word daar ook baie vir ons gesê dat dit van kardinale belang is om wiskunde te kan doen om ‘n suksesvolle  toekoms te verseker. Daarom voel leerders hulle skiet tekort as hulle nie wiskunde kan doen of verstaan nie. Gevolglik lei dit ook daartoe dat leerders wie se sterkpunt nie wiskunde is nie, geneig is om wiskunde-angs te ervaar. 

Dit is ons normale gedrag om onsself met ander mense te vergelyk. Daarom sal leerders hulself konstant met hulle vriende en kennisse vergelyk en dikwels die nodigheid voel om beter te doen as ander. Hierdie brandende begeerte om beter te wees, plaas enorme druk op kinders wat aan wiskunde-angs lei. As hoërskoolleerders, het ons dikwels die vrees vir onderprestasie of mislukking en daarom raak baie van ons angstig wanneer dit by wiskunde kom, aangesien dit nie almal se beste vak is nie. 

Dit is egter belangrik om nooit op te gee nie en nie toe te laat dat wiskunde-angs jou onderkry nie. Daar is verskeie dinge wat jy kan doen om jou stres te reguleer en jou wiskunde-angs onder beheer te kry.  Opvoedkundige sielkundiges kan leerders met hul wiskunde-angs help. Onderwysers, tutors of ekstra klasse kan ook help dat jy jou wiskunde beter verstaan. Om ekstra ure te spandeer aan jou wiskunde mag jou dalk meer gerus laat voel. 

Die belangrikste advies vir leerders wat met wiskunde-angs sukkel, is om nooit moed op te gee nie en die nodige hulp te kry. Ons almal is geskape met verskillende talente en vaardighede wat ons as mense anders van mekaar maak. As ons almal dieselfde talente gehad het, sou daar niks wees wat ons as mens spesiaal maak of laat uitstaan nie. Daarom hoef wiskunde nie jou sterkpunt te wees nie. Wiskunde-angs is ‘n realiteit en daar is baie leerders wat daarmee worstel en jy hoef nooit alleen te voel nie. 

As hoërskoolleerders ervaar ons klaar baie druk en aan die einde van die dag is die belangrikste ding wat ons kan doen om mekaar te help en te ondersteun. Onthou, jy is nie alleen nie.

Caylin Parker

Caylin se gunstelingvak is kuns en sy hou daarvan om kreatief te werk.