Nederland: Die land van hokkie

[Isabella Huisamen]

Daar is nie genoeg woorde in die Afrikaanse taal om te beskryf wat ʼn belewenis Nederland vir ons as hokkiespelers was nie. Ons het vriendskappe gebou, herinneringe gemaak en baie hokkiewedstryde gespeel.

18 September – Om tienuur die oggend het al 32 van DF se hokkiedogters en die ses afrigters gereed gestaan om ʼn nuwe avontuur, wat ons vir ewig sal onthou, aan te pak. Dit het ons getref dat ons besig was om die oomblik, waarvoor ons al vir nege maande in spanning gewag het, te beleef. Almal was te opgewonde om op die vlug te slaap. Toe ons in Doha, Katar geland het, het dit gevoel asof ons in ʼn oond ingeloop het, met die hitte wat ons onmiddellik getref het. Gelukkig was die lughawe aansienlik koeler. 

19 September – Al het meeste van ons nie op die vlug geslaap nie, en was baie moeg, het ons besluit om in die lughawe rond te loop. Ons het die skoonheid van Doha se binnehuise tuin ingeneem en nuwe winkels ontdek. As jy op die lughawe slaap ingekry het, was jy een van die gelukkiges, want baie min mense het. Hier het ons op ons laaste vlug geklim en ons was op pad Amsterdam toe. Ons het agt ure later geland en het direk van die lughawe af na ons eerste hokkiewedstryd toe in Den Haag gegaan. Dalk moes ons bietjie geslaap het, want ons kon skaars ons oë oophou. Die o. 15’s het teen Crayenhout gespeel en die o. 14’s het teen Spijkenisse gespeel. Na die wedstryde het ons aandete by die hokkieklubs geniet en vertrek na ons eerste Stayokay (die hotelle waarin ons gebly het tydens die toer) in The Haque.

20 September – Ons het op ons bus geklim en vertrek na Duinrell (‘n pretpark en waterpark). Toe ons daar aankom, was almal geskok deur al die verskillende aktiwiteite wat ons kon doen. Ons het onsself defintief uit ons gemaksone geplaas met al die verskillende ritte. Nadat ons middagete geëet het, het ons na Tikkibad vertrek. Ons het onsself gate uit geniet by ʼn binnehuise waterpark, met 21 verskillende waterglybane. Dit was definitief ‘n hoogtepunt van die toer. Nadat ons ses ure by Duinrell spandeer het, was ons op pad na ons tweede wedstryd van die toer by Hockeyclub Wateringse. Om ʼn bitter opwindende dag af te sluit, het ons aandete by die klub geëet en die Nederlanders leer sokkie. 


21 September – Na ʼn heerlike ontbyt het ons na die middestad van The Haque vertrek om ʼn bietjie rond te loop en nuwe winkels te leer ken. Dit was ʼn baie suksesvolle dag in terme van lekkergoed en klere koop en nuwe winkels verken. Na middagete het ons nog ‘n bietjie rondgeloop voordat ons na Amersfoort vertrek het om ons gasfamilies te ontmoet. Ons gasfamilies het ons sommer vinnig laat tuis voel deur lekker aktiwiteite saam met ons te doen en ons meer te leer oor hoe hulle leefwyse verskil van ons s’n.

22 September – Almal het opgewonde wakker geword, want ons het geweet watter ongelooflike dag vir ons voorlê. Ons gasfamilies het ons by ʼn hokkieklub afgelaai, waar ons weer ons spanmaats kon sien en vertel van ons eerste aand by ons gasfamilies. Ons was baie opgewonde, want ons het die geleentheid gekry om na ʼn eerste liga-hokkiewedstryd, tussen Kampong en Rotterdam (twee van Nederland se grootste hokkieklubs), te gaan kyk. Ons het selfs vir Jip Janssen, een van die bekendste veldhokkiespelers in die wêreld, wat vir Nederland se nasionale span speel, ontmoet en het saam met hom foto’s geneem. Nadat ons na die opwindende wedstryd gekyk het, het albei ons spanne self by Hockeyclub Eemvallei gespeel. Daarna het ons ons laaste aand by die gasfamilies geniet.

23 September – Nadat ons almal vir ons gasfamilies totsiens gesê het, het ons met die bus na Bunnik vertrek, waar ons in ons tweede Stayokay gebly het. Vir die meeste van ons was dit ‘n uitdagende, maar tog lekker dag, want ons het fietse gehuur en tot in Utrecht daarmee gery. Utrecht is ʼn beeldskone stad met ou geboue en oulike winkels. Ons het ʼn heerlike middag spandeer om winkels te besoek en lekker kos te eet voordat ons weer op die fietse geklim het en teruggekeer het na ons hotel. Daarna het ons Hockeyclub Ares toe gegaan om wedstryde te speel en aandete te geniet by die klub. 

24 September – Hierdie dag was definitief die dag gevul met die meeste hokkie. Ons het ons eerste wedstryd van die dag by Hockeyclub HBS gespeel. Toe almal klaar  is, het ons The Jumbo Hockeystore besoek, waar ons nuwe hokkiehandelsmerke leer ken het. Daarna het ons teruggekeer na ons nuwe Stayokay in Amsterdam-Oos. Ons was bietjie agter skedule en kon amper nie middagete inpas nie, maar gelukkig het twee van die o. 14-spelers se ma’s vir ons almal broodjies gaan koop en hotel toe gebring. Die bus het ons toe na ons tweede wedstryd by Hockeyclub Alliance geneem

25 September – Dit was die dag wat ons Amsterdam kon verken! Ons het gebruik gemaak van Amsterdam se bekende tremstelsel om by die groot toeristegedeelte van die stad uit te kom. Die dag het glad verloop totdat die trem weggetrek het, met die helfte van die leerders daarop en die ander helfte nie. Gelukkig was almal veilig en ons het mekaar weer by die volgende stop ontmoet. Ons het op ʼn bootjie die wêreldbekende Nederlandse kanale verken en klomp bekende plekke, soos die Anne Frank-huis, gesien. Na middagete het ons almal weer bymekaar gekom en met die trem terug hotel toe gery, waar die bus ons na ons amptelike laaste wedstryd van die toer geneem het. Ons was baie hartseer dat die toer tot ʼn einde kom, maar ek is seker ons spiere was baie dankbaar, want om ʼn volle hokkiewedstryd elke dag te speel, is beslis nie ʼn grap nie! Na die westryde teen Hockeyclub Lelystad, het ons weereens aandete by die klub geëet. Ons het terug hotel toe gegaan en ʼn goeie nagrus gekry, voor ʼn lang dag van pak en vlugte vang.

26 September – Net so het die dag aangebreek: Ons laaste dag in Nederland. Dit het ons getref dat ons op pad huis toe was. Ons het allerhande emosies op dieselfde tyd gevoel, omdat ons nie eintlik seker was hoe om te reageer op die feit dat iets so ongelooflik tot ʼn einde gekom het nie. Daar was ‘n gevoel van hartseer, want dit het tot ʼn einde gekom en ook ʼn gevoel van dankbaarheid, want ons het die voorreg gehad om dit te kon beleef. Op ons vlug het ons teruggedink aan al die kosbare herinneringe wat ons oor die afgelope sewe dae gemaak het en hoe ons sewe dae terug geen idee gehad het watter ongelooflike ondervinding vir ons voorlê nie.

27 September – Hierdie keer kon ons wel op die vlug slaap. Toe almal begin wakker word, het ons ontbyt geëet en voor ons ons oë kon knip, het ons geland. Ons het omtrent by die deure uitgehardloop na ons ouers toe. Almal se ouers het bordjies gemaak om ons terug te verwelkom.

Net so is dit klaar en Nederland is nou net een van ons gunstelingherinneringe wat ons weet ons vir jare nog oor gaan praat en lag. Deze reis zal voor altijd een speciaal plekje in ons hart hebben.

Isabella Huisamen

Isabella is mal oor hokkie en swem. Wanneer sy nie besig is op die sportveld nie, spandeer sy tyd met haar hond.