Nuwe jaar, nuwe ek?

[Mignon Roux]

Met die nuwe jaar wat onlangs begin het, voel almal gemotiveerd om nuwe dinge te probeer en om die “nuwe” weergawe van hulself te word. Dit klink mos maklik? Ongelukkig is die aanleer van nuwe, gesonder gewoontes nie kinderspeletjies nie.

Navorsing op Forbes se webtuiste wys dat slegs 1% van mense wat vir hulself Nuwejaarsvoornemens stel, daarmee volhou tot die einde van die jaar. Oor die jare word hierdie uitdaging as een van die moeilikste take bekroon as gevolg van die lae slaagsyfer. Hier is voorstelle om een van daardie mense te word wat wel daarin slaag om jou nuwe, vars leefstyl te skep.

Wees realisties

As jy iemand is wat amper nooit gaan draf nie, moenie verwag dat jy binne ‘n paar maande die Comrades Marathon in rekordtyd kan voltooi nie. Begin klein met iets soos om elke oggend ‘n ligte draffie te vat en dan kan jy ‘n paar jaar later mik om die Comrades te doen. Mense kan klein en kreatief begin met hul doelwitte vir die nuwe jaar. In die boek Atomic Habits deur James Clear, sê hy dat less more is, en om doelwitte vir elke dag te stel, maak nie saak hoe klein nie, maak jou lewe aansienlik beter.

Maak hulle spesifiek

Baie mense stel doelwitte soos, “Fokus meer op skool”, maar dit is nie spesifiek genoeg nie: Hoe gaan jy jouself help om meer te fokus op skool? In plaas daarvan om ‘n baie vae doelwit te stel, kan jy liewer iets soos, “Som elke aand vir 30 minute lank op” of “Ek mag nie op my foon wees by die skool nie” neerskryf.

Moenie met te veel begin nie

Wanneer dit tyd is om jou Nuwejaarsvoornemens neer te skryf, wil almal dadelik begin met iets soos reksprong, alhoewel hulle hoogtevrees het. Dalk is dit beter om eers oor jou vrese te kom.  

Moenie hoop verloor nie!

Mense voel altyd binne twee weke moedeloos, maar herinner jouself dat jy deel kan wees van daardie 1%.

Met jou nuutgevonde motivering, kan jy 2024 op ‘n hoë noot afskop en vir almal wys wat jou volle potensiaal is.


Mignon Roux

Mignon is baie lief vir haar twee katte en kyk graag Formule 1 op Sondae. Sy hou ongelukkig baie van Ferrari en spandeer die res van haar week om ‘n beter stokperdjie te soek.