Nuwe jaar, nuwe karakters

[Lisemarie van Dyk]

Dit is 2026 en ‘n nuwe hoofstuk het aangebreek vir DF Akademie. Elke storie begin natuurlik met nuwe karakters, en ons het ses van ons nuwe onderwysers ontmoet om te hoor wie hulle is, waar hulle vandaan kom en hoekom hulle gekies het om juis hier in DF se gange, hul roeping uit te leef.

Juffrou de Jager
Juffrou de Jager het aan die begin van 2026 begin as DF se nuwe Duitse juffrou. Sy geniet fotografie en om staptogte in die natuur aan te pak.

Sy was ’n paar jaar gelede ‘n matrikulant aan die Hoërskool Bellville en het daarna by die Universiteit Stellenbosch ’n BA in Geesteswetenskappe sowel as ‘n nagraadse onderwyssertifikaat verwerf. Haar proeftydperk by DF het gehelp om haar te oortuig om by DF Akademie aan te sluit, omdat die onderwysers oulik is en omdat sy van die kultuur hou. Sy noem ook dat DF een van min skole in die Wes-Kaap is wat Duits as vak aanbied.

Haar eerste paar weke by DF was oorweldigend, maar steeds baie lekker. Sy noem dat sy baie dankbaar is vir die hulp en ondersteuning wat die onderwysers gebied het terwyl sy nog besig was om aan te pas. Sy sien uit daarna om Duits as vak uit te brei, die personeel beter te leer ken en saam met die skool te groei.

Meneer Burger
Meneer Burger gee geografie en geskiedenis vir graad 8’s en 9’s. Hy geniet dit om te lees, te oefen by die gimnasium en het in die verlede ook klubrugby gespeel.

Hy het by die Universiteit Stellenbosch onderwys studeer en eers vir ‘n rukkie by Laerskool Bastion gewerk. Sy eerste weke in DF was, volgens hom, “Besig, maar lekker.”

Hy is opgewonde oor interskole en geniet die perspektief wat hy nou van DF kry deur ’n onderwyser se oë, aangsien hy in DF se klas van 2019 was.

Juffrou Hawksley
Juffrou Hawksley, nóg ’n DF-oudleerling, gee lewenswetenskappe vir graad 8 tot 10 en fisiese wetenskappe vir graad 9’s. Sy geniet lees, gimnastiek en om haarself uit te druk deur die kreatiewe kunste (alhoewel sy haarself nie as kunstig sal beskryf nie). Haar gunstelinggraad om voor klas te gee is die graad 10’s omdat die kurrikulum een van haar gunstelingonderwerpe bevat – die geskiedenis van die lewe op aarde.
Sy was in 2019 saam met meneer Burger in matriek by DF en daarom was DF heel eerste op haar lysie van moontlike poste. Sy is baie lief vir die skool en beskou dit as ‘n voorreg om hier te wees.

Juffrou Hawksley sê: “Dit is ’n vreemde gevoel om aan die ander kant te staan.” Volgens haar kan ander skole soms koud voel, maar DF het haar warm verwelkom en haar gemaklik laat voel, ten spyte van haar vrees en onsekerheid. Sy sien uit daarna om met die kinders te werk, te kyk waarheen hulle gaan en hoe hulle groei.

Juffrou Lesch
Juffrou Lesch gee musiek as vak vir graad 8 tot 12 en skeppende kunste vir graad 8’s en 9’s. Sy is ook DF se nuwe blaasorkesdirigent en eerste houtblaasspesialis wat individuele en groepsklasse gee in meer as nege instrumente.

Sy is ’n lid van die Cape Winds Blaasorkes, waar sy verskeie instrumente bespeel. Verder is sy lief vir kook, bak, lees, reis en om tyd saam met haar familie en hulle worshond, Lulu, te spandeer.

Sy was in Hoërskool Bellville op skool en het daarna haar Baccalaureusgraad in Musiekonderwys (BMusEd) by die Universiteit van Kaapstad verwerf. Na ‘n groot verskeidenheid poste het sy in 2014 by die musiekdepartement van Settlers High School aangesluit, waar sy vir die afgelope vyf jaar die hoof van hulle musiekdepartement was.
Sy is baie passievol en opgewonde oor haar pos by DF: “Ek is baie bevoorreg om hierdie spesiale pos by DF Akademie te kan beklee. Nie net is dit ‘n nuwe pos waar ek permanent en elke dag by die skool is nie, maar ek het nou die kans om deel te wees van ‘n baie opwindende en talentvolle musiekdepartement, waar ek die geleenthede vir huidige en toekomstige musiekleerlinge aan die DF Akademie verder kan uitbrei.”

Juffrou Langenhoven
Juffrou Langenhoven gee wiskunde vir graad 8, 10 en 11. Sy geniet dit om in haar vrye tyd fotoboeke te maak, boek te lees of ’n goeie reeks te kyk, as sy nie na haar kinders omsien nie. Haar gunstelinggrade om voor klas te gee is beslis graad 11 en 12 omdat die wiskunde, volgens haar, “lekker uitdagend” is.

Sy was in Hoërskool Overkruin in Pretoria en het nadat sy BSc (wiskunde) studeer het, Wes-Kaap toe verhuis. Sy wou van kleins af ’n onderwyseres word en het ’n onderwyskwalifikasie verwerf.

Volgens haar was die eerste paar weke by DF vol nuwe ervarings. Sy geniet dit om die DF-manier van dinge doen te leer en sien uit daarna om deel te raak van al die verskillende aktiwiteite wat die skool aanbied.

Meneer Oosthuizen
Meneer Oosthuizen, DF Akademie se nuwe skoolhoof, gee slegs vir een graad 10-klas ekonomie. Hy is lief vir lees, gholf, visvang en sport oor die algemeen. Hy het lank net vir matrieks klasgegee by sy vorige skool, Hoërskool Witteberg, maar noem wel dat dit lekker gaan wees om ’n nuwe perspektief met die graad 10’s te kry.

Meneer Oosthuizen het BCom Regte studeer en ook ’n honneursgraad in ekonomie verwerf. Later het hy ook ’n onderwysdiploma en MBA voltooi.

Hy noem dat hy nie “besluit” het om ’n onderwyser te word nie, maar dat hy eerder deur die Here gestuur is. Hy het vir lank nie werk gekry nie totdat sy alma mater, Hoërskool Witteberg, hom laat weet het dat ’n aflospos vir hom beskikbaar is. Daarna het hy vir 18 jaar ’n permanente pos by Witteberg beklee.

Meneer Oosthuizen noem dat hy dit sover verskriklik geniet by DF, veral omdat alles in sy moedertaal, Afrikaans, plaasvind. Hy sê dat hy baie bevoorreg is om by DF te wees, en noem ook dat DF 400 meer leerders en twee keer soveel onderwysers as sy vorige skool het.

Ons verwelkom ons nuwe onderwysers van harte en wens hulle voorspoed toe. Mag hierdie jaar gevul wees met vreugde, sukses en onvergeetlike DF-oomblikke. Julle gaan elkeen op jul eie manier ’n besonderse impak maak by DF en ons is opgewonde om te sien hoe julle elke dag bydra tot die groei en sukses van ons skool.

Lisemarie van Dyk

Lisemarie is mal oor musiek en wiskunde. Haar beste vriend is haar skeinatboek en jy sal haar gewoonlik by die naaste klavier opspoor.