Nuwe jaar, ou gewoontes (Hoe om jou Nuwejaarsvoornemens vol te hou)

[Emma Schneeberger] 

Aan die einde van elke jaar maak die meeste van ons, myself ingesluit, ’n  belofte – ’n belofte dat dinge volgende jaar anders sal wees. In Januarie is ons vuur en vlam; ons leer hard, staan vroeg op, gaan elke dag gym toe en drink genoeg water.

In Februarie hou ons nog redelik goed aan, al raak dit ’n bietjie moeiliker. Teen Maart se kant het die wiele egter heeltemal van die bus afgeval – die bus is nie eens meer op die pad nie. 

Tog is ’n Nuwejaarsvoorneme nie ’n slegte idee nie. Dit gee ons kans om te groei en te verbeter, indien dit reg aangepak word. Hier is wenke om dit korrek  te doen: 

1. Stel realistiese doelwitte. 

Die doelwitte wat jy stel, moet moontlik wees om te bereik. Wanneer jy  klein, realistiese mikpunte het, is dit makliker om op koers te bly. 

2. Bly gemotiveerd. 

Onthou hoekom jy begin het. Herinner jouself gereeld aan jou doelwitte en wat jy al bereik het. 

3. Beloon jouself vir vordering. 

Elke klein oorwinning tel. ’n Beloning maak die proses lekkerder en help jou om gemotiveerd te bly. 

4. Gee jouself afdae. 

Rus is belangrik. Afdae help jou om weer energie te kry en op die langtermyn aan te hou. 

5. Aanvaar dat party dae moeiliker as ander sal wees. 

Nie elke dag gaan perfek wees nie. Moeilike dae is deel van die proses en  beteken nie mislukking nie.

6. Glo in jouself. 

Selfvertroue speel ’n groot rol in sukses. As jy in jouself en jou vermoëns  glo, is jy meer geneig om te presteer. 

7. Bly positief. 

’n Positiewe gesindheid help jou om op jou vordering, eerder as jou foute, te fokus. 

As jy hierdie stappe volg, hoef jou bus dalk nie weer langs die pad te breek nie. Onthou, selfs busse se brandstof raak op, so neem ’n dag, fokus op hoe ver jy al gekom het en hou aan ry.

Emma Schneeberger

Emma is ‘n gr. 9-leerder wat mal is oor swem, lees en dans. Sy spandeer graag tyd saam met familie en vriende.