[Ellie Herbst]
Afrikaans. Die fondasie van ons kultuur en skool. Die vreemde en fantastiese mengsel van Nederlands, Maleis, Portugees, Duits, Frans en verskeie Afrika-tale.
Afrikaans is eers in 1925 as ’n nuwe taal erken. 50 jare later, in 1975, het Afrikaans ’n monument as verjaarsdaggeskenk ontvang. Dit beteken dat dit eers in 2025 ’n honderd jaar oud sal wees en dus een van die wêreld se jongste tale, met ongeveer 7 250 000 sprekers wêreldwyd, is. Afrikaans is een van die maklikste tale om aan te leer as Engelssprekende en sodra jy Afrikaans verstaan, word dit maklik om verskeie ander tale (bv. Nederlands en Flaams) te verstaan.
Gedurende apartheid (1948 tot 1994) was Afrikaans die taal van onderwys. As gevolg hiervan word Afrikaans as ’n taal van onderdrukking gesien. Deesdae is daar ook baie min aansporing om Afrikaans te leer as jy dit nie al klaar ken nie. Die meeste van die wêreld se boeke, films, webtuistes en media oor die algemeen is in elk geval in Engels. Kombineer dit met die assosiasie met apartheid, en dit lyk asof Afrikaans oor die volgende 100 jare gaan uitsterf.
Dit is ten minste wat die ANC of enige Engelssprekende vir jou sal sê.
Maar as ek één ding van Afrikaners weet, is dit dat ons nie maklik opgee nie.
Afrikaans is ’n taal met ‘n baie ryk geskiedenis. Daar was mos ’n tyd toe ons kaalvoet oor die Drakensberge moes loop met net ons taal in ons harte en nie die vaagste benul waarheen ons gaan nie. Dit is ’n taal gebou op die stryd en harde werk van duisende mans, vrouens en kinders.
Dit is ’n taal wat ewig sal bly verander en, op een of ander manier, ewig sal bly staan. Ons is Afrikaners! Wees trots daarop.
Engels is ’n taal wat so oud soos die berge is.
Afrikaans is ’n taal wat ons oor daardie berge sal neem.
Watter taal is nóú beter?
Om ’n taal aan die lewe te hou, moet dit oor die jare verander, met nuwe woorde wat bykom en met tegnologie wat verander. Ek het besluit dat ek in elke artikel ’n nuutskepping (’n nuwe woord) gaan ontwerp en die definisie onderaan die artikel plaas.
Ons almal moet ons deel doen om ons edeltaal aan die lewe te hou. Lees ’n boek deur ’n Afrikaanse skrywer (ek sou Marita van der Vyver aanbeveel). Kyk 7de laan. Besoek elke nou en dan die Taalmonument.
Bly trots op jou taal, Afrikaans.
(Edeltaal: ’n Taal met baie passievolle sprekers en ’n ryk geskiedenis.)
Ellie Herbst
Ellie is die een wat sportdae met ‘n hoop boeke op die pawiljoen deurbring. Haar kop is in die wolke, maar haar voete is stewig op die grond geplant. Sy hoop om eendag ‘n kinderboekskrywer of joernalis te word.