[Mieke Verster]
Van Die Burger se Jeugleierskonferensie tot vroegoggende en laataande se werk, is ons hoofmeisie vir 2025, Emma Steffen, reg om hierdie jaar met alles wat sy het aan te pak. Sy vertel ons graag hoe sy tot hierdie punt gekom het en wat nog vir haar voorlê dié jaar.
Hoe is jy gekies vir Die Burger se 66ste Jeugleierkonferensie?
Dit was ’n proses waar ek ’n klomp aanlynvorms moes invul waarin hulle vra oor jou skoolbetrokkenheid, persoonlike inligting, prestasies en leierskapdeelname. Ek moes ook ’n minuut lange video instuur oor wie ek is en hoekom ek graag aan hierdie konferensie wou deelneem. Ek was toe een van die gelukkige 60 wat gekies is en ek kon nie meer dankbaar wees vir hierdie ervaring nie.
Wat is jou gunstelingherinnering van hierdie konferensie?
Die heel beste deel was definitief die mense wat ek daar ontmoet het. By die skool leef ’n mens so in jou eie kokon, dit het my regtig uitgedaag om uit my gemaksone te kom en met almal te praat. Nog iets wat vir my verrassend, maar so ongelooflik was, was hoe uitgesproke almal oor hulle geloof was en dit alles net soveel meer spesiaal gemaak.
Wat is iets wat jy geleer het by hierdie konferensie wat jy graag sal wil bylas by jou nuwe rol as hoofmeisie?
Ons het by die konferensie baie gefokus daarop om jou eie sterkpunte te identifiseer, maar ook die sterkpunte van jou span. Dit is een van die waardevolste goed wat ek dink ons moet implementeer om die sterkste span moontlik te bou.
Wat is ’n eienskap wat jy dink enige leier moet hê?
Liefde gaan dit definitief vir jou die maklikste maak om ’n goeie leier te wees. Om ’n leier te wees, is baie werk en jy kry nie altyd die erkenning daarvoor nie, daarom moet jy net alles uit liefde doen. En dan is organisering en diensbaarheid ook altyd belangrik.
Watter voorbereiding moes jy doen voordat jy amptelik hoofmeisie kon word?
Na die Jeugleierskonferensie, moes ek dokumente opstel vir verskillende bedrywighede wat ons hierdie jaar wil aanpak, soos die oorbrugging en die Buddy-projek. Ek het ook ’n nuwe toepassing opgestel om te help met organisasie en het aan meer deurlopende aktiwiteite begin werk, soos dat die SR elke week ’n kort video uitstuur om almal in die skool te motiveer.
Wat dink jy is die moeilikste deel daarvan om ’n leier te wees?
Balans en mense se verwagtinge. Jy is net een mens en mense verwag baie van jou as ’n leier omdat jy heeltyd in die oog is. Dit is waar balans inkom, om realisties te dink en nog steeds ’n lewe te leef buite die skool.
Wat is een verskil wat jy hoop om hierdie jaar in die skool te maak?
My hoofverskil wat ek wil maak kom van een van my gunstelinglirieke in ’n liedjie wat sê: “I don’t want to leave a legacy, I don’t care if they remember me, only Jesus.” Ek wil ook eenheid, trots en passie vir ons skool bevorder en aanvaarding in die skool verbeter. Daar is ook ’n paar nuwe initiatiewe waaroor ek baie opgewonde is.
Wat is jou raad aan Dee-Effers wat ook graag leiers wil wees?
Bly jouself en leef jou eie waardes uit. As jy nie weet waarvoor jy staan en wat jou waardes is nie, dan gaan mense jou nie volg nie. Nog iets is om aan te hou probeer. Net omdat jy een keer nie gekies is vir klasleier of Raad van Leerders nie, beteken nie dat jy ’n slegte leier is nie. Al het jy nie ’n titel nie, kan jy steeds ’n leier vir die mense rondom jou wees.
Ons is so opgewonde om te sien hoe Emma en die res van die SR hierdie jaar gaan aanpak en watter nuwe idees hulle na die skool bring.
Mieke Verster
Mieke se gunstelingstokperdjies is om netbal te speel, boeke te lees en om vir 6-jariges gimnastiek af te rig. Haar vriende en familie beskryf haar as entoesiaties en gedrewe en sy pak enige uitdaging met selfvertroue aan.