Ontspan met die Herout: ‘n oorsig oor ‘n mal kwartaal

[Jana Burger en Nienke de Vaal]

Die tweede kwartaal is slegs ses weke aan die gang en meeste Dee-Effers voel asof die berg huiswerk, take en ander skoolverwante aktiwiteite net al hoe meer word. Dit sluit nie eens die komende Junie-eksamens in nie. Gelukkig is die Herout hier om ‘n bietjie ontspanning en vermaak in hierdie stresvolle tye te verskaf. 

In hierdie uitgawe van die Herout delf ons diep in al die doen en late waarvoor Dee-Effers hul laat aande opoffer. 

Hier is ‘n voorsmakie van slegs ‘n paar geleenthede waarby Dee-Effers betrokke was.

DF was van dag 1 af opgewonde oor die eerste glansgeleentheid van die kwartaal, naamlik Meneer en Mejuffrou DF. Met fondsinsamelings en markdae was dit amper tyd vir die groot dag. En wat het daar gebeur? Begin jou soektog deur hierdie uitgawe om meer hieroor uit te vind. 

Met blazers vol linte van pers, rooi en goud versier, het DF hul ondersteuning vir die liefdadigheidsfondsinsameling vir Tygerberg Hospitaal se Kankereenheid gewys. Deur slegs R5 ‘n strikkie het ons in die eerste week van verkope genoeg geld ingesamel om alreeds een onkologiestoel te koop. Dit is ‘n inisiatief wat na aan ons blou harte lê en DF het beslis hul kleur gewys.

Kort daarna het die gruwelaand van die jaar vir ons graad agts aangebreek: die spookhuis. Op die eerste Mei het die matrieks vroeg aan die werk gespring om ons heel normale skoolgebou in ‘n doolhof van nagmerries te verander. Hopelik het hulle nie die graad agts só bang gemaak nie.

DF se revue is uiteindelik hier! Die opwinding van die DF Romkom, Wasseshow, se openingsaand op 15 Mei loop al by alle Dee-Effers se ore uit. Juffrou Eyegelaar en juffrou Etsebeth is saam met hul span van dansers, akteurs, sangers en die broodnodige tegniese en admin groep, hard aan die werk om die aand se sukses te verseker. Hierdie heelskool-produksie is beslis ‘n geleentheid van pure vermaak wat jy nie wil misloop nie. Die kaartjies is besig om spoedig uit te verkoop … Het jy al jou sitplek bespreek? 

Die gevreesde eksamens is byna op ons voorstoep. As jy voel asof jy alreeds agter is, is dit belangrik om te onthou dat jy af toe ‘n breek moet neem, aandag gee aan jou tydsbestuur en hou in gedagte dat ‘n bietjie vordering beter is as geen vordering.

Het jy al kans gekry om asem te skep? 

Moenie bekommerd wees nie, ons ook nie. Dus is hierdie uitgawe van die Herout jóú geleentheid om terug te sit en iets nuuts te leer. Of jy geïnteresseerd is in sport, aktuele sake of ligte vermaak, daar is iets vir almal.


Nienke de Vaal
Jana Burger

Jana is ‘n boekwurm wat op ‘n missie is om soveel as moontlik nuwe tale aan te leer. Sy geniet dit om films te kyk en analiseer terwyl sy hekel. Sy raak vinnig opgewonde wanneer jy met haar praat oor ‘n boek wat sy al gelees het of ‘n musikant waarna sy luister.

&

Nienke is ‘n massiewe aanhanger van die alledaagse estestiese. Sy geniet boeklees en goeie films. Kuns en geskiedenis is haar gunstelingvakke en sy sal graag in diep gesprek gaan oor enigiets te doen met die Middeleeue of vintageklere.