Oranjerivier : graad 9’s op reis

[Hanler van Eck]

DF se graad 9’s het onlangs die jaarlikse Oranjerivier-uitstappie na Amanzi Trails in Namibië beleef. Dit was ‘n avontuur vol opwinding en leerervaringe. Beslis ‘n belewenis wat jy nooit sal vergeet nie.

Almal moes om 23:00 by DF opdaag en die leerders het op Maandag, 18 Maart om 23:30 vertrek. Die graad 9’s is vergesel deur ‘n span onderwysers insluitend juffrou van Hulst, juffrou Janse van Rensburg en mnr. Barnard, ‘n oud-DF-onderwyser. Daar was ‘n mengsel van geselskap, opgewondenheid en selfs ‘n paar kinders wat gou-gou in die land van drome verdwyn het.

Die begin van die busrit was onmerkwaardig, maar mettertyd het die landskap buite die bus begin lewe kry en toenemend uitheems geraak. Die rit is onderbreek vir vinnige stoppe by die R2-badkamers – wat ‘n bietjie van ‘n uitdaging was. Dit het wel nie die graad 9’s gekeer nie. Hulle het sommer in pare per R2 ingesluip. Die lig van die skemeroggend, wat deur die busvensters ingeglip het, het die Dee-Effers wakker gemaak, maar hulle was gou weer terug aan die slaap. Gereed vir die volgende deel van die avontuur.

By Springbok, die laaste stop, het hulle die vryheid gehad om rond te loop, kos te eet, en selfs ‘n paar springbokke te sien. Hulle was net verlig dat hulle naby hul bestemming was.Teen die einde van die busrit het hulle die Namibiese grens om 11:15 bereik en teen die middag het hulle by Amanzi Trails aangekom. Teen 16:00 was hulle uiteindelik daar. Gereed vir die avontuur wat voorlê.

Die slaapreëlings was eenvoudig, maar definitief ongewoon. Meisies het drie grondseile ontvang en die seuns het twee ontvang. Almal het op matrasse in hul slaapsakke geslaap. Sommiges het selfs op die gras onder die sterre geslaap. Goggas was alomteenwoordig, maar dit het hulle nie gepla nie. Die uiterste warmte van die dag (ongeveer 40°C) het oorgespoel tot in die nag. Dit het hulle nie gekeer om naby die vuur te sit en die geselskap van die onderwysers en toergidse te geniet nie. Daar was geen beperkings op die aandklokreël nie, net ‘n versoek om ander nie te steur nie.

Die aktiwiteite was ‘n groot deel van die pret. Wakker word, eet en dan begin die avontuur. Daar was gedurig geroei op die rivier, met stoppe by vinnige waterstrome vir ‘n bietjie ekstra opwinding. Hulle het selfs ‘n nuwe rekord opgestel deur 22 mense in ‘n trein-formasie te roei. Daar was die opwinding van visvang, spring vanaf klippe en selfs bergklim. Die gidse en onderwysers was ‘n groot hulp met al die aktiwiteite en het hulle veiligheid verseker. Die Nappie-rit was ‘n hoogtepunt vir baie. Met die graad 9’s wat hulle reddingsbaadjies oor hul bene gedra het, soos ‘n nappie, en deur die waterstrome geroei het.

Die terugkeer na Bellville was ‘n rustige affêre, met geselskap en musiek wat deur verskeie leerders verskaf is. Almal was bly om huis toe te gaan en om behoorlik in hul eie bed te kon slaap sonder die konstante gedreun van muskiete en ander vreemde goggas. Dit was die einde van ‘n onvergeetlike avontuur.

Die ervaring is iets wat die graad 9’s sal onthou vir ‘n leeftyd. Hulle deelname aan die aktiwiteite het ‘n algehele prentjie geskep van herinneringe en leermomente. Elke leerder het ‘n unieke perspektief van die ervaring, maar almal stem saam dat dit uiters waardevol was.

Boodskappe van Oranjerivier-leerders

Caro Thirion: “Almal het ten minste een keer omgeval en jy móét ten minste een keer omval. Ten spyte daarvan was dit ‘n baie lekker experience en dit is iets wat jy definitief op jou bucket list moet sit. Eerlikwaar – Oranjerivier is nie vir sissies nie. Jy moet kan weet wat jy doen in die natuur en jy moet baie goed voorberei; dan sal dit vreeslik lekker wees!”

Lira de Vaal: “In daai oomblik was dit nie so lekker nie, want ek was so moeg en ons was geïrriteerd met mekaar, maar as ek terugkyk is ek baie dankbaar dat ek kon gegaan het. Dit was baie lekker en ek dink dat ek weer sal wil gaan, net nie binnekort nie!”

Bella Kruger: “Amazing en vol pret, maar nogal uitdagend. In die oomblik is dit uitputtend, maar aan die einde van die dag, as jy terugdink aan die hele experience, dink jy aan hoeveel pret dit eintlik was. Dit was so pragtig oral waar jy gaan. Ek het gedurende die hele toer ‘n bietjie anders na die lewe gekyk en meer dankbaar begin wees vir alles wat ek het. Algehele insig: Awesome, tiring en ‘n jol.

Boodskappe vir 2025 se Oranjerivier-roeiers

Anru van der Westhuizen: “Bring baie meer water en sonroom.”

Jorja de Freitas: “Gryp die geleentheid aan. Geniet elke oomblik weg van die beskawing en tegnologie en maak seker jy onthou jou doom!”

Riani Janse van Rensburg: “Bring baie water en geniet al die aktiwiteite. Druk deur tot die einde, al wens jy dat dit verby is, want na die tyd wil jy net weer gaan roei!”

Aan die graad 9’s van 2025, ons wil julle aanmoedig om hierdie geleentheid met entoesiasme en oop gemoedere aan te gryp. Die Oranjerivier-uitstappie is nie net ‘n reis nie; dit is ‘n inwydingsrit wat jou sal vorm en ‘n beslissende indruk op jou hoërskoolervaring sal hê.

Moenie huiwer nie. Spring in, verken, en ontdek die wêreld wat vir jou wag op die oewers van die Oranjerivier. JA, DF!


Hanler van Eck

Hanler is beslis ‘n liefhebber van die literêre wêreld. As jy hom nie op die astro of by kooroefeninge opspoor nie, sal hy
waarskynlik in die kombuis wees, besig om geflopte nageregte te maak.