Oulike kafees om te besoek voor 2023 om is

[Jean-Mari Vos]

Ek glo ek praat namens almal wanneer ek sê dat daar niks beter as ’n cappuccino met ’n koekie of twee is nie. Hier is ’n paar oulike en estetiese kafees wat jy in 2023 móét besoek. 

Eerstens, MochiMochi by Torii. MochiMochi is ’n kafee wat deur die Japanese kultuur geïnspireer is. Die woord mochi is afkomstig van Japan. Dit is ’n Japanse nagereg gemaak van soet klewerige rysmeel of mochigome. Hierdie kafee het talle opsies om van te kies. Van smullekker melkbrood, kaaskoek tot Japanese groentee! MochiMochi het ietsie vir almal en sal jou beslis vir ’n tweede keer sien. MochiMochi is geleë in Buitengrachtstraat 71, Kaapstad. Hulle is oop van 10:00 tot 18:00 en toe op Saterdae en Maandae.

Tweedens op die lysie is Clay Café. Clay Café is net wat jy dink dit is. Dit is ’n kafee waar jy ’n verskeidenheid keramiekware kan verf terwyl jy iets te ete geniet. Dit is bekostigbaar, met heerlike kos en soetgoed! Hulle het drie takke; in Houtbaai, Kaapstad en Paarl. Hulle Kaapstad-tak is geleë in Breestraat 199 en is oop vanaf 10:00 tot 17:00 op Maandae en Dinsdae, 10:00 tot 22:00 op Woensdae tot Vrydae, 9:00 tot 22:00 op Saterdae en 9:00 tot 18:00 op Sondae.

Derdens het ons vir Rumi Café. Nie alle kafees hoef net soetgoed te hê nie. Rumi Café is ʼn halaal-kafee geleë in Central Square in Pinelands. Hierdie kafee het ʼn verskeidenheid van kos, drankies, koffies en soetgoed vir diegene met ʼn soettand. Daar is ook ʼn wegneemete opsie vir dié wat daarvan hou om hulle kos te geniet in die gemaklike omgewing van hul eie huis.  Rumi Café is oop van 7:15 tot 18:00 op Maandae tot Donderdae, 7:15 tot 21:00 op Vrydae en Saterdae en 7:15 tot 15:00 op Sondae.

Vierdens is daar Serendipity Creamery. Serendipity Creamery is ʼn kafee geleë in Rondebosch. Serendipity Creamery het soos die meeste kafees verskeie koeke, maar hulle het ook roomys vir daardie warm en sonnige somersdae wat om die draai is. Serendipity Kafee het ʼn verskeidenheid roomysgeure soos honeycomb, halwa en selfs Lindt-sjokolade! Hulle het ook twee vegetariese opsies wat sjokolade en bloubessie insluit.

Serendipity Creamery is geleë in Belvedere Square, op die hoek van  Keurboom- en Belvedere-straat, Claremont. Hulle is oop van 8:00 tot 18:00 regdeur die week. 

Laastens is daar Shift Espresso Bar, Waterway House. Shift Espresso Bar is ʼn populêre kafee onder K-pop-liefhebbers, siende dat hulle elke ander maand hul kafee oopmaak vir verskeie K-pop-liefhebbers. Shift Espresso is ook bekend vir sy pragtige uitsig oor die kanaal. Hulle het ’n verskeidenheid koffies, eetgoed en nageregte. Ietsie vir almal. Shift Espresso Bar is die perfekte plek om saam met jou vriend uit te gaan om te gesels en op te vang. Shift Espresso is geleë in Dockstraat 4, Victoria & Alfred Waterfront, en is oop vanaf 6:00 tot 20:00 op Maandae tot Saterdae en 7:00 tot 15:00 op Sondae.

Met al hierdie opsies wat hierbo gelys is, is daar beslis geen rede om nie hierdie vakansie ’n lekker koppie koffie of snytjie koek saam met ’n geliefde te geniet nie.


Jean-Mari Vos

Jean-Mari is ‘n entoesiastiese meisie, wat graag skryf oor alles waarvan sy hou, soos Formula 1, Stray Kids (die musikante) en vele meer. Haar gunstelingvak is biologie. Sy hou ook baie van piekniek en om aanlyn inkopies te doen.