Permanente Ink

Erica Chen

Permanente ink is ‘n boek wat deur Carina Diedericks-Hugo geskryf is en volg vier hoërskoolleerders wat elkeen op hulle eie manier spesiaal is, terwyl ‘n reeksmoordenaar, opsoek na verliefde tienerpaartjies, deur die nag rondsluip.

Hierdie boek speel rond met die perspektiewe van verskillende karakters. Soms volg jy een van die hoërskooltieners, naamlik Amir Pieterson, Werner Swart, Zelda Krige en Robert du Toit. Sommige hoofstukke fokus op Inspekteur Liebenberg, die kaptein van die polisiespan en asof dit nie genoeg is nie, kan jy met tye die gedagtes van die bekende Romeo-en-Juliet-reeksmoordenaar lees.

Die vier tieners moet almal detensie sit, maar in plaas daarvan om in ‘n klaskamer te sit, moet hulle 24 uur se gemeenskapswerk doen. Die groep moet die ou koshuis langs die skool skoonmaak en verf en die tieners is min beïndruk. Boonop moet hulle ook die skool se sielkundige, doktor Burk, besoek, maar daar is ‘n slang in die gras waarvan die leerders nie weet nie.

‘n Paar van my vriende wat die boek gelees het, het saamgestem dat hulle die boek met gemak kon lees en dat die boek meer gerig is op laerskoolleerders. Ander het gesê dat hulle die karakters oppervlakkig gevind het en dat die boek baie maklik was om te voorspel, waarmee ek saamstem. 

My mening is dat die boek baie maklik is om te volg en te verstaan wat aangaan. Die boek se intrige en die manier hoe die storie vloei, is baie eenvoudig en dit is baie maklik om uit te vind wie die moordenaar is. Alhoewel die boek nie die beste op die rak is nie, is dit ‘n lekker boek om op te tel en mee te ontspan, sonder om te veel daaroor hoef te dink.

Ek gee hierdie boek 3 uit 5 sterre.