Proefleierskap: Die Wandelpad na Leierskap

[Jimmy Wiggins]

In 2024 is ’n nuwe paradigma vir leierrade by ons skool geïmplementeer. Of jy dit nou die SR, MR, RVL of VLR noem, hierdie rade staan vir die eerste keer op gelyke voet. Voordat jy op ’n raad verkies kan word, moet jy jouself eers verkiesbaar stel. Ongelukkig is dit nie so eenvoudig nie, jy moet jouself eers bewys. Hoe doen jy dit? Proefleierskap! Vir byna twee maande het 95 graad 11-leerders op hierdie massaraad gedien.

Die proefleiers is met verskeie take gekonfronteer. Hierdie take het terreindiens, weeklikse vergaderings en vele meer ingesluit. In die eerste twee weke van die proeftydperk het elke leerder twee vergaderings bygewoon, waar die prosedures van proefleierskap bespreek is, asook die verantwoordelikhede wat hulle vir die komende twee maande sou hê. Die rolle van die verskillende leierrade en hoe hulle in perfekte harmonie saamwerk, is ook gedek. Die doel was om die proefleiers in kennis te stel hoe om die skool op die beste manier te dien.

Almal se gunsteling: terreindiens. Gedurende die proeftydperk is ons in 15 lukrake groepe van ses of sewe ingedeel. Ongeveer twee keer per week is dit ’n groep se beurt om ’n aangewese area te monitor en te beman. Indien die area probleemvry is, sou ons aanbeweeg na die mees gevreesde plek op die terrein: die badkamers.

Beide die senior en junior badkamers van albei geslagte is deur alle groepe, wat daardie dag die terrein gemonitor het, besoek. Hierdie taak het ’n uitdaging geword, want in die badkamers is daar altyd iets om te rapporteer. Aan die einde van die dag sou een persoon in die groep ’n volledige uiteensetting van die gebeurtenisse aan me. Minnie stuur, sodat sy en ander onderwysers bewus kon wees van enige verwikkelinge.

Luca du Toit, wat deel van die proefleierskap was en tans deel van die mentorraad is, beskryf die badkamerdiens as volg. Hy sê: “Ons probeer ons bes om elke probleem te inspekteer en dit te rapporteer. Dit is by verre die uitputtendste taak wat ons as proefleiers moes afhandel.”

Gedurende die proeftydperk is daar op ’n Donderdag en Vrydag onderhoude met al 95 kandidate gevoer. Drie vrae, gemik daarop om die kandidate se waardes, soos medemenslikheid en betrokkenheid, te beklemtoon, is gevra. Die kandidate het voor ’n paneel van onderwysers en verteenwoordigende leerders gepraat.

Vooraf is daar vraelyste aan elke proefleier se vakonderwysers gegee waarin ’n kwantitatiewe waarde aan die leerder se waardes en gedrag in die klas geheg word. Hierdie kwantitatiewe waardes is van groot belang, aangesien die onderwysers se stemme vir die leierrade 50% van die finale uitslag bepaal. Die leerders se stemme tel ook 50%.

Op 30 Augustus het die dag van groot afwagting aangebreek – graad 11-dag. Hierdie is ’n geleentheid van feesviering vir die graad 11’s, met verskeie verrigtinge wat op hierdie dag plaasvind. Die belangrikste is die toesprake. Elke proefleier het, net voordat die stemproses begin het, ’n toespraak aan die graad 11’s gelewer, wat dalk ‘n laaste poging was om nog ‘n paar mense te oortuig. Die laaste verrigting was die stemming vir die leierraad van 2025, waar elke persoon se stem tel.

Die bepaling van ons leierrade is dus heeltemal kwantitatief, want leerders se stemme word ook aan ’n syferwaarde gekoppel. Sodoende sal die bepunting van die onderwysers en leerders vir juf. Minnie ’n duidelike beeld van 2025 se leiers skep. Die leerders met die hoogste syferwaarde bevind hulself nou op ’n leierraad.

Daniël Wiese beskryf die graad 11-dag en stemproses soos volg: “Ek het die formaliteit waardeer, respek is gehandhaaf, maar jy kon steeds ondersteun en jou eie insette lewer. Die stemproses was vinnig en gerieflik. Die gasspreker was baie goed en snaaks.”

’n Vereiste vir hierdie dag was kantoordrag, om professionaliteit as prioriteit te handhaaf ten spyte van spanning wat mag plaasvind.

Een van ons nuutverkose leerders op die raad van leerders, Louise Zwiegers, sê die volgende: “Die proefleierskapproses het vir my verbasend baie geleer oor myself. Tydens die proses is ons opgevoed oor die simbiotiese verhouding tussen al die verskillende rade. Buiten dit, ook wat dit beteken om ’n leier te wees. Ons is opgevoed oor wat die leiers van 2024 gedoen het en hoe ons verder kan bou op hulle nalatenskap.”

Hierdie berig word opgedra aan me. Minnie en almal wat agter die skerms gewerk het en hierdie leierskapservaring so suksesvol soos wat dit was, gemaak het. Baie dankie aan haar en haar span vir al hulle harde werk.

Jimmy Wiggins

Hierdie lid van die Herout is ’n groot liefhebber van films, hetsy oud of nuut. Hy geniet ook gholf en buitelugaktiwiteite. Jy sal hom nooit hoor kla as hy ’n koppie warmsjokolade in sy hand het nie.