Promposals: Om ‘n metgesel te vra, is ‘n Olimpiese sport!

[Lianel Lotriet]

Promposals het oor die jare ‘n hoogtepunt van sommige leerders se hoёrskoolloopbane geword. Dίt, wat altyd die eenvoudige daad was om iemand na die matriekafskeid toe te vra, het in ‘n geleentheid van kreatiwiteit en kompetisie verander. Die dae van ‘n reguit uitnodiging is verby; vandag se leerders maak uitgebreide promposals wat met Hollywood-produksies kan meeding.

Hierdie gebeurtenis kan met die Olimpiese Spele vergelyk word. Die atlete oefen vir maande, verseker dat hulle tegniek volmaak is en kompeteer dan vir goud: om daardie ou of meisie na die matriekafskeid toe te vra.

Kom ons kyk terug na hierdie jaar se unieke promposals: Die matrieks het ‘n punt daarvan gemaak om hierdie jaar hul promposals na ‘n ander vlak te neem, wat nog nooit vantevore in DF Malan te sien was nie.

Eerstens, was daar atlete wat hul woordspeling en kunstige vermoё kom wys het met handgeskrewe bordjies en blomme. Sommige seuns het hul vriende genader en die meisie se naam uitgespel op individuele bordjies wat elke ou moes vashou. Dit is altyd ‘n wenner onder die dames.

Tweedens, het atlete met hul musikale talente kom pronk deur vir die meisie ‘n romantiese liedjie te sing. Dit het ‘n groot gehoor gelok en beslis elke meisie se hart gewen. Ander het seker gemaak haar gunsteling-Taylor Swift-liedjie speel terwyl hulle haar gevra het. Hoe kan sy dan nee sê?

Derdens, en seker die promposal wat die meeste aandag getrek het, was toe ‘n seun ‘n meise vra deur die graad 8’s te betrek. Hulle het ‘n erewag vir haar gevorm tot op die veld waar sy verwelkom is met haar naam uitgespel met  ligte rondom. Die seun het ‘n hemp met twee blokkies op gedra en sy moes met haar pen ja of nee teken. Dit was werklik ‘n goue medalje werd.

Dit is maklik om hierdie promposals as ‘n kompeterende Olimpiese sport te herken, maar vir hierdie leerders gaan dit dikwels meer oor konneksie tussen vriende en klasmaats. Net soos atlete streef na uitnemendheid, gooi leerders hulle harte in dié promposals in, wat elke oomblik onvergeetlik en dikwels skreeusnaaks maak.

Lianel Lotriet

Vir Lianel is die geliefdes in haar lewe baie belangrik. Jy sal haar gereeld op ‘n netbalbaan vind. Sy is ‘n aanhanger van romantiese flieks en geniet dit om kitaar te speel.