[Daniël du Plessis]
Die wêreld beweeg al hoe meer na ‘n digitale era waar die lewe deur ‘n skerm gesien word. Dit sluit die daaglikse aspekte van ons lewens, soos inkopies, vermaak en die afgelope paar jaar al hoe meer en meer sport in.
Dit is wel nie sport soos ons dit ken nie. Elektroniese sport (bekend as e-sport) is van die vinnigste groeiende vorms van internetvermaak. Tussen 2017 en 2022 het die grootte van die industrie na meer as 240 biljoen dollar verdubbel. Volgens Exploding Topics se Top 23 Esports Statistics in 2024 is daar meer as 285 miljoen entoesiastiese kykers wat hulself jaarliks met digitale sport vermaak.
Watter sportsoorte word vertoon dat daar soveel mense voor hulle rekenaarskerms vasgenael is? Dit is nie tradisionele sportsoorte nie, maar liewers rekenaarspeletjies gebaseer op strategiese spanwerk. Óf jy nou van bo wil kyk en ‘n karakter beheer óf deur die mik van ‘n geweer jou vyand wil verslaan, is jou eie keuse.
Van die gewildste titels sluit CS:GO, Dota 2 en League of Legends in. Die titel met die topkykertal is League of Legends met oor 6,4 miljoen kykers wat op 19 November 2019 wêreldwyd gekyk het. Die titel met die grootste pryspoel is volgens Esports Charts, Dota 2 wat spog met ‘n indrukwekkende totale pryspoel van meer as 323 miljoen dollar.
Dit is wel nie net ‘n kwessie van voor jou rekenaar gaan sit en op jou sleutelbord tokkel nie. Daar is bevind dat professionele e-sportatlete ‘n gemiddeld van byna 40 ure weekliks aan oefen spandeer. Die meeste spelers maak wel ook seker om hulle ander oefening deur weerstandoefening, kardiovaskulêre oefeninge en tradisionele sportsoorte in te kry.
Die toekoms is op ons voorstoep en dit sluit die toekoms van sport in. Dit mag dalk vreemd wees, maar e-sport is beslis iets wat net gaan aanhou groei. Jy kan maar solank vir jou ‘n span kies om voor te skree.
Daniël du Plessis
Daniël is ‘n entoesiastiese sportman wat homself besig hou met vier sportsoorte deur die jaar, maar hy het ook ‘n groot passie vir skaatsplank ry. Hy geniet wel rustiger aktiwiteite soos brei en klavier speel vir ‘n bietjie balans in die lewe.