Renosterveld: natuurskoon of skoonveld?

[Sandrine Steyn]

Het jy onlangs die nuutgeboude, golwende bruin mure in die Majik Forest-gebied langs Oude Westhof-rylaan gewaar? Het jy dalk gewonder wat op dees aarde daar aangaan? Of moontlik gewandel in jou buurt en netjies afgebakende gebiede in die omliggende veldjies of parke gewaar? Kon jy dalk met nadere inspeksie vasstel dat die afgekampte area doodgewone vegetasie bevat wat met die res van die veld saamsmelt soos jy jou wandeling hervat? 

Bogenoemde vorm deel van die Wild Flower Stepping Stone Projek in die noordelike voorstede. Dit is ‘n organisasie wat gestig is om inheemse plantegroei te bewaar en te herstel. Die projek poog ook om mense bewus te maak van die bedreiging van sekere plantspesies, spesifiek renosterveld. 

Renosterveld is ‘n susterspesie van fynbos en word tans krities bedreig. Alhoewel renosterveld die grootste deel van die Kaapse floristiese streek opmaak, is min mense bewus van die struikagtige plantgemeenskap se bestaan. Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteit is net ‘n verstommende 5% van die land se renosterveld oor. 

In ‘n onderhoud met Monique Green, een van die vrywilligers wat betrokke is by die projek, verduidelik sy dat die oorkoepelende term, “renosterveld”, ‘n wye verskeidenheid plantsoorte, wat baie dieselfde lyk as fynbos, insluit. In breë trekke ontbreek proteas, ericas en riete wat hoofsaaklik by fynbos voorkom. Renosterveld groei ook meestal in vrugbare grond, met landbou wat gevolglik die hoofoorsaak van die uitwissing daarvan is.

“Renosterveld in sy ongerepte vorm bestaan uit plante soos varings, bolplante en pragtige fyn blommetjies. Klein diertjies, soos verkleurmannetjies, skilpaaie en bestuiwers (voëls en insekte), is van die plantgemeenskap afhanklik vir kos en habitat. Indien renosterveld sou verdwyn, sou sommige diere ook uitsterf met ‘n verdere verlies aan ons biodiversiteit,” beaam Monique Green oor die ekologiese belang van die plantgemeenskap.

Die Wild Flower Stepping Stone Projek (WSSP) is dus hoofsaaklik gerig op die bewaring en bewusmaking van die renosterveld se uitwissing. Onder meer is die Majik Forest Renosterveldtuin deur die WSSP geskep. “Die idee is deur een van die WSSP-groepslede, André Venter, begin. Hy is ook ‘n lid van die CREW (Custodians of Rare and Endangered Wildflowers). Ek het deur sosiale media betrokke geraak en so ook ‘n nuwe bewustheid van ons natuur begin ontwikkel,” vertel mev. Green.

Die tuin word gekenmerk deur unieke klipmure wat deur die befaamde Leon Kluge ontwerp is. Hy is ‘n internasionaal beroemde landskapsargitek en tuinboukundige wat vanjaar by die internasionale Chelsea Blommeskou in Londen, deel van die span, wat twee goue toekenings vir Suid Afrika ontvang het, was. 

Mev. Green vertel opgewonde verder: “Groot was die verrassing toe Leon, na aanleiding van ‘n e-pos, instem om die ontwerp en konstruksie van die Majik Forest se opvoedkundige tuin te behartig.” Die bou van die tuin het hoofsaaklik op vrywilligheidswerk en donasies berus en het dus ‘n geleentheid aan die gemeenskap gebied om betrokke te raak by die projek.” 

Die onbeduidende afgekampte veldareas is as Stepping Stones geskep sodat voëls, insekte en sade veilig tussen die Tygeberg Natuur Reservaat en die Durbanville Fynbos Reservaat kan beweeg.  Die groei van die vegetasie word dus so bevorder en bewaar. 

Volgens mev. Green is die langtermynvisie van WSSP dat die konsep van Stepping Stones regoor die land versprei. “Verskeie plaaslik inheemse plante in mense se tuine sal ook kan dien as stepping stones.” Sy motiveer DF Malan se leerders om ‘n tuin by die skool te begin met vegetasie inheems aan die noordelike voorstede. “Die WSSP sal enige tyd help met advies indien die skool so ‘n projek sou oorweeg.”

WSSP is net een voorbeeld van hoe burgers se samewerking ‘n merkwaardige verskil in die land tot gevolg kan hê. Hul inisiatief en bereidwilligheid skep ‘n voorbeeld wat ons as skool ook kan nastreef. Jy kan die Wild Flower Stepping Stone Projek op sosiale media volg. Hul vordering en geleenthede om vrywillig betrokke te raak, word so aan die publiek bekend gemaak.

Met jou volgende uitstappie kan jy gerus deur die Majik Forest gaan wandel en ‘n draai maak by die renosterveldtuin. Die pragtige ontwerp van golwende bruin mure is beslis ‘n besienswaardigheid en die plantegroei in en om dit, ‘n baken van hoop vir ons gemeenskap, die natuur, en ons toekoms.

Sandrine Steyn

Sandrine is ‘n passievolle danser en dol oor diere. Sy vind aanklank by vakke soos musiek en wiskunde en geniet die vermaak van ‘n boeiende boek. Vanjaar is sy in graad 11 en neem graag deel aan Afrikaanse debat. Kom gesels (of argumenteer) gerus met haar!