[Lynn-Marie Louw]
Die wêreld waarin ons lewe skep die illusie dat ‘n mens eendag ‘n ridder op ‘n wit perd gaan ontmoet en vir ewig en altyd gelukkig saam gaan bly. Die held of heldin gaan ook aantreklik, slim en talentvol wees.
Sprokies laat ons egter besef dat ons ridder op ‘n wit perd dalk net hier onder ons neuse wegkruip. In die alledaagse, gewone, soms vreemde mense om ons.
Kyk net na Beauty and the Beast. Die les is dat innerlike prag baie belangriker as uiterlike skoonheid is. Beast sou nie eens ‘n finalis vir Mnr. DF gewees het nie. Tog het Belle hom ‘n kans gegee, hom beter leer ken en toe eers ‘n opinie gevorm. ‘n Slegte haardag moenie bepaal wat mense van jou dink nie. En volg jy nie die mode 100% nie, moet dit nie mense laat dink dat jy nie die moeite werd is om te leer ken nie.
In Frozen, is die liefde tussen Christoff en Anna nie waaroor die morele lessie gaan nie. Die eintlike les wat ons saam met ons moet dra, is dat bloed dikker as water is. Ja, jou familie maak jou soms meer mal as enige iets anders, maar wanneer jy hulle nodig het, probeer hulle hul bes om jou by te staan. Selfs al is dit in ‘n klein gebaar soos om ‘n briefie in jou tas te sit. Dus bly jou ridder dalk in die kamer langs jou.
Aladdin vertel vir ons die verhaal van ‘n outjie wat homself heeltemal probeer verander sodat Jasmine van hom hou. Hy dink rykdom is die sleutel tot sy geluk. Tog sien die kyker dat Aladdin se agtergrond hom gevorm het, hy moes net besluit of dit positief of negatief gaan wees. Op die ou einde, was Jasmine verlief op die Aladdin sonder weelde of vlieënde matte! Aladdin moes hier besef dat hy goed genoeg is vir haar en dat hy nie haar hart sou wen deur te wees soos wat die wêreld wou hê hy moes wees nie…
Ons sien oral die ideale wat die wêreld vir ons skep en dink ons sal nooit ons prins of prinses vind nie, maar deur na hierdie sprokies te kyk, sien ons dat liefde en aanvaarding die basis van enige goeie verhouding is. Of dit jou beste maat, ʼn sussie of boetie of dalk net ʼn onderwyser is wat elke dag in die gang vir jou glimlag.
So, volgende keer as jy dink jy is alleen, dink aan al die mense wat jou liefhet en weet, hulle is ook jou ridder, dalk net in die vorm van ʼn ogre en sy donkie.
Lynn-Marie Louw
Lynn-Marie is ‘n boekwurm wat hou van kultuur. Sy hou van skryf en stories oor nonsens vertel.
