[Cara Booysen]
(geïnspireer deur Samboksalf en ‘n Draaktraan deur A.M. Holder)
mense en vergifnis:
twee konsepte opgesom in die
houer en inhoud van
blik en kanfer
wanneer hulle nuut in jou
lewe is
maak hulle moeilik oop
jy wroeg en wonder
hoekom
het ek hulle in my lewe gebring?
wag en sien
hoe meer jy hulle inhoud beleef:
hulle dampe wat jou herinner aan
kinderdae en somersdae en wintersdae,
hoe makliker maak hulle oop
hoe meer verlang jy na hulle walms
hulle sal jou vir lank bystaan
wanneer jy dit die nodigste het
is dit daar
daar om jou wond of
droë lippe te moet
troos
dan is dit by jou
in jou broeksak:
vir die troos of
genesing
van tydsverloop of
foute
dit sal jou vir lank bystaan.
