Etienne van der Merwe
Met die strewe na ’n groener wêreld, duik daar ’n ongelooflike hoeveelheid beige op soos wat mense besef net hoe veelsydig die sampioen is.
Sampioene pluk is die stokperdjie wat vir jou ure se pret en ontvlugting kan bied. Wees net versigtig vir dié met die wit kieue! Sampioen pluk is selfs ’n nasionale sport in Suidelike Litaue. Dit is dalk nie ’n aktiwiteit wat regdeur die jaar suksesvol sal wees nie, maar wanneer die winter hier in die Kaap aankom, beter jy die mandjies regkry!
Nadat jy die sampioene gepluk het, is daar ‘n groot verskeidenheid disse wat jy met hulle kan maak. Sampioene word gereeld saam met vleis in ‘n dis gebruik. Dit kan byvoorbeeld saam met die vleis gaargemaak word en met rys bedien word. Dit is ook fantasties in soppe of souse waar dit die sous dik en romerig maak en dan self ook ‘n geurbom raak nadat dit al die fantastiese speserye soos ’n spons opgesuig het. Ek sou hulle egter net in ’n pan gooi met ’n bietjie olyfolie en vars kruie soos tiemie en roosmaryn.
Hulle kan ook in ’n meer industriële omgewing met verbysterende gevolge gebruik word. Dinamiet kom in klein pakkies, en dié bomme word doelbewus gekweek vir maksimale impak. Die gebruike van ons geheimsinnige helpers is amper net beperk tot wat jou verbeelding met hulle kan doen. Dit kan vir enigiets vanaf kunsmatige leer tot verpakking gebruik word.
Die maatskappy Mylo is een van die voorlopers in die sampioen-leerbedryf en is gretig om met ‘n omgewingsvriendelike oplossing vorendag te kom. In 2022 het die leerbedryf ongeveer 23.8 miljoen ton koolstofdioksied geproduseer. Dit sluit enige oorskot of gemorsprodukte uit. Die voordele van sampioen-plaasvervangers staan uit soos ‘n paal bo water. Geen koolstofdioksied word tydens die vervaardigingsproses geproduseer nie en die materiaal kan perfek gekweek word tot die dimensies wat benodig word.
30% van stortingsterreinspasie is gevul deur polistireen. In 1986 was polistireen die vyfde mees geproduseerde toksiese stof. Styrofoam is ook al vir jare in ‘n hele paar Amerikaanse state verban.
Dink net gou as stortingsterreine nié ‘n probleem was nie. As die hoeveelheid mikroplastieke in die omgewing wat in jou vetselle beland en neurogiftig is en moontlik kanker bevorder, nié daar was nie. Met behulp van sampioene is dit nie net teoreties moontlik nie, maar werklik uitvoerbaar.
Ek dink dat ons almal kan saamstem dat dit ‘n feit soos ‘n koei is – sampioene is ons vriende! Hulle voorsien vir talle mense ‘n smaaklike happie, of ‘n wonderlike verskoning om die woude verder te gaan verken. Ek sien baie uit na wanneer dit algemeen sal wees om te sê dat jou leerbaadjie tot jou grootte gekweek is.
Sampioene lyk nie net beige nie, maar het ook net soveel kombinasies en gebruike.