Seksualisering van kinders

[Mischa Coetzee]

Gedurende die laaste paar jaar het kinders vinniger begin ouer lyk. Het jy al agtergekom die graad 8’s van hierdie jaar lyk baie meer volwasse as wat jy ooit gelyk het? Dié verskynsel is as gevolg van die media se impak op jong kinders. Internetgebruik laat ons toe om visueel die seksualisering van kinders te sien.

Kinders wat publieke figure, soos musikante en sportsterre sien, sal hulle dikwels as rolmodelle ag en hul gedrag wil na-aap. Dit is noodsaaklik om te onthou dat die seksualisering van jong kinders nie net die weerspieëling van hul rolmodelle is nie, maar eerder die invloed van die volwassenes in hul omgewings.

Meer as 95% van kinders het toegang tot die internet en word dikwels nie deur hul ouers gemonitor nie. Dus veroorsaak dit dat kinders blootgestel word aan media wat baie geseksualiseer is. Adverteerders glo vas in die denkwyse dat seksualisering tot groter winste sal lei. Vrouens word veral geteiken in advertensieveldtogte. Mooi vrouens met ronde kurwes en stywe klere word gebruik as ‘n middel om karre, vakansies of alkohol te verkoop. Kinders wat hieraan blootgestel word, sal dit as normaal ag en in sekere gevalle dit wil naboots. ‘n Dinamika word geskep waar vrouens se waarde gebaseer word op hul fisiese voorkoms eerder as hul intelligensievlak of persoonlikheidseienskappe. Dit dra by tot seksistiese ideologieë wat beide jong meisies en seuns benadeel.

Onskuldige kommentaar lewer groot bydraes tot die seksualisering van kinders. Iets só klein soos om vir ‘n vyfjarige te vra of sy al harte breek, het ‘n negatiewe impak. Kinders word so geassosieer met onderwerpe wat normaalweg slegs met adolessente en ouer tieners geassosieer word. Die lyn tussen wat aanvaarbaar en onvanpas is, word verdof. Sodoende vind meer seksualisering plaas.

Die stryd om seksualisering van kinders te stop, is lank en moeilik aangesien dit oral om ons is. Dit het wel ‘n maklike eerste stap: Dink twee keer oor die media waaraan jy blootgestel word.

[Foto: Jacques Cres-Williams]


Mischa Coetzee

Mischa se liefde vir geskiedenis sal altyd deel wees van enige van haar gesprekke. Sy is nie bang is om oor sosiale kwessies te debatteer nie. In haar vrye tyd sal jy haar by ʼn oudhedewinkel of by die bioskoop saam met haar vriende vind.