[Christina Bradley]
Graad 8 is die jaar waar jy in onbekende diep waters gegooi word en aangesê word om te swem. Jy is ’n klein mossel in ’n groot dam vol nuwe wonders en gevare.
Maar hoe oorleef jy? Hoe op aarde onthou jy waar elke gang, onderwyser en klas is? Wel, hier is jou stap-vir-stap-gids oor hoe jy kop bo die dreigende waters kan hou.
SGPR is die metode wat sintuie gebruik om te oorleef:
1. Sig
By DF is daar so baie dinge om waar te neem. Alles is kleurvol en bont. Van die gange tot die onderwysers. Maar jou sig is ook daar om in die besige gange te oorleef. Dit kan moeilik wees om gapings te soek om tog net nie laat te wees nie. Neem waar, anders ly jy swaar.
2. Gehoor
Dinge by DF kan baie lawaaierig raak. So, jy moet jou ore spits as jy aan dinge wil deelneem. Klasse is maklik om te vind as jy luister; elke onderwyser het ’n kenmerkende stem. Luister ook na al die krete en gesingery van die koor. Spits jou ore en jy word nie verlore.
3. Proe
Dit is net by DF waar ’n mens sulke lekker kos en koffie by ons eie kafeteria en Koffieblik kan kry. Dit is dikwels die enigste ding wat jou aan die lewe hou. En moenie vergeet van Doughnut Donderdae en verbruikerstudiesklasse met al hulle peuselhappies en soetgoed nie! Sodat jou hart nie stoppie, koop ’n koffie.
4. Reuk
As jy nie weet hoe om by jou klasse te kom nie, sal jou neus jou meer help as wat jy dink. Fisika ruik altyd soos eksperimente. Engels ruik soos papier en ink. Maar moet eerder nie jou neus gebruik nadat LO-prakties gedoen is nie.
So, dis maklik. Gebruik jou sintuie en jou algemene kennis en jy sal maklik kop bo water hou. Vertrou jouself en onthou #kiesdielig.
Christina Bradley
Christina is beslis ‘n sosiale persoon wat nie sommer jou naam gaan vergeet nie. Sy is mal oor musiek en kan nie daarsonder leef nie. Sy gee ook alles op die hokkieveld en sal enige tyd vir jou ‘n goeie boek kan aanbeveel.
