Sielkunde van spanwerk

[Etienne van der Merwe]

Wanneer daar ‘n taak uitgedeel word, voel dit altyd soos ‘n civvie-dag. Die enigste ding wat beter is, is as groepwerk toegelaat word.

Daar is talle voordele verbonde aan groepwerk:  Die werk kan vinniger gedoen word, want soos ons almal weet, maak vele hande ligter werk.

Groepwerk in sy eenvoudigste vorm is wanneer mense saamkom om ‘n probleem op te los. ‘n Mens kan sê dit is voordelig omdat dit vinnig is of omdat dit lekker is om saam met ander te werk, maar die waarheid is dat daar soveel meer aangaan onder die oppervlakte. Dit kom neer op die denkskool van sosiale sielkunde.

Wanneer mense saamwerk, is daar talle elemente wat in ag geneem moet word. Ons is almal uniek. Dit is regtig een van die grootste voordele wat ons het. Al is die een dalk ‘n kinestetiese leerder en die ander een ‘n visuele leerder, ons vul mekaar aan. Ons leer perspektief en empatie van mekaar. Ons leer geduld.

Intelligensies

Groepwerk is ‘n kookpot van persoonlikhede. Dit benodig ‘n spesiale vaardigheid om groepwerk veilig te laat werk. Gelukkig is daar mense met hierdie vermoë. Hulle het ‘n interpersoonlike intelligensie. Daar is agt verskillende tipes intelligensies en mense wat sterk interpersoonlik is, kan maklik die verskillende persoonlikhede in ‘n groep uitken. Hulle kan ook die algemene gevoel oor ‘n saak vinnig raaksien.

Aan die ander kant van die spektrum, is die  intrapersoonlike intelligensie. Hulle het goeie selfkennis. Hulle kan dus vinnig aanpas in ander omgewings deur hulself te plaas in situasies waar hulle weet hulle die beste kans het om te presteer of minstens die minste ongerief ervaar.

Taalkundige intelligensie is redelik voor die hand liggend. As jy taalkundig intelligent is, dan besit jy die vermoë om taal te manipuleer en prakties toe te pas.

Dan is daar die logies-wiskundige intelligensie. Hierdie mense floreer wanneer daar ‘n logiese uitdaging, soos ‘n wiskundige probleem is. Hulle is jou klassieke ingenieurstipe aangesien die tipe logiese uitdagings hulle brood en botter is.

As die ingenieur die brug bou, gaan sit die naturalis daaronder. Mense met ‘n naturalistiese intelligensie is die mense wat lief is vir die natuur en graag tyd buite deurbring of baie weet van plante en diere.

As die naturalis vriende maak met die wilde perd, sal die liggaamlik-kinestetiese intelligensietipe heel moontlik daarop probeer ry. Dit is nou mense wat graag aan sport deelneem.

Om die intelligensie-oktaaf af te sluit, kom die musikale intelligensie in gesing. Hulle het ‘n vermoë om ritme, noot en melodie uit te ken en te geniet.

Innerlike en uiterlike motivering

Motivering is die gevoel van inspirasie wat ‘n mens kry om dinge te doen. Daar is twee vorme van dryfkrag:  intern en ekstern.

Interne gemotiveerde mense kan uit hulle eie wil besluit om goed te doen. Gewoonlik loop hulle oor van planne of idees wat hulle in werking wil stel.

Vir die van ons vir wie dit soos ‘n onmoontlikheid voel, moenie te gou  bekommerd raak nie.  Jy is waarskynlik nie lui nie. Die ander vorm van motivering is eksterne motivering. Dit is wanneer jy net tot aksie sal oorgaan as jy weet dat daar ‘n eksterne beloning of prys ter sprake is.

Ekstrovert of introvert

‘n Ekstrovert is gewoonlik jou interpersoonlike intelligensietipe. Dit is die mense wat graag tyd deurbring saam met ander en dit vervelig of onplesierig vind om alleen te wees. Die ekstrovert kry sy energie deur saam met ander mense te wees. Dit wil sê hy sal graag sy hele dag bestee aan kuier en energie kry daardeur.

Dit benodig nie ‘n wetenskaplike om uit te pluis dat dit nie juis waar is vir ‘n introvert nie. As hulle heeldag tussen mense moet wees, selfs hulle vriende, sal hulle uitgeput wees. Hulle kry hul energie deur tyd op hul eie deur te bring. Hulle is doodtevrede om heel dag op hul eie te wees, ‘n boek te lees en na hulle gunstelingreekse te kyk.

Dit is die agtergrondteorie vir sosiale sielskunde wat beweer dat mense (veral kinders en tieners) die meeste leer van hul portuurgroep.

Dit is belangrik, want in groepe werk baie verskillende mense saam wat dit moontlik maar vir jou om baie te leer. Yster slyp yster en die mense rondom jou slyp jou. Wanneer mense sê dat jy jou vriende goed moet kies, is hulle heelemal reg. Jy leer sosiale etiket en versterk sekere eienskappe wat jou toelaat om in te pas by die mense rondom jou.

Ons is almal uniek. Ons is waardevol as gevolg daarvan. Soos die uitdrukking, vele hande maak ligter werk vertel, is ons die effektiefste wanneer ons saam is. ‘n Legkaart is onverstaanbaar as elke stuk op sy eie beskou word, maar wanneer dit as geheelbeeld saamkom, kan die resultaat soos ‘n vlinder uit sy kokon verskyn en jou totaal en al verstom.


Etienne van der Merwe

Hierdie skrywer is soos ‘n menslike Swiss Army-mes: Hy bons tussen programmering, lees, krieket, wiskunde, ekonomie en debat asof dit geen probleem is nie.