Skaakbal: Agter die skerms

Danté van Wyk

Op 31 Maart, het een van die interessantste toernooie in DF-geskiedenis plaasgevind: skaakbal. Danksy twee weke van noukeurige beplanning, het Alexander Volsckenk en sy span dit reggekry om een fenominale spel te laat plaasvind.

Die toernooi het soos volg gewerk: Al 23 spanne is in twee poele verdeel, poel A en poel B. Poel A het uit die juniors bestaan en poel B uit die seniors. Elke span het uit vyf leerders bestaan en om die kersie op die koek te sit, kon hulle hul eie spanname kies. Dit het gelei tot eienaardige name soos Noah se span, die Bedroglike Amigos en Die slegter span.

Die vangplek by skaakbal was dat dit in twee verskillende sportsoorte verdeel is, naamlik netbal en skaak. Poel A het vir ‘n paar rondtes netbal gespeel terwyl poel B skaak gespeel het. Dan het almal roteer en die proses het so gevolg tot al die spanne teen mekaar gespeel. Dit is die kunswerk van die spel. Daar is enkele kinders wat goed was in beide sportsoorte, maar die meeste ken net die een of die ander sport. As gevolg van hierdie mengsel van sportsoorte, het skaakbal baie Dee-Effers geïnteresseer en almal het die geleentheid gehad om die skaakbal-kroon te verower.

Die Herout het ‘n onderhoud met Alexander Volschenk gevoer om uit te vind wat agter die skerms van skaakbal plaasgevind het:

Hoe het julle met die idee vorendag gekom?

Lank voor skaakbal het ons, die leierraad, bespreek dat die mentorraad graag ‘n fondsinsameling op die laaste dag van die eerste kwartaal wou doen. Die plan was aanvanklik ‘n skaaktoernooi, maar iets soortgelyk aan skaakbal. Almal het van die idee gehou, maar toe maak hulle ‘n voorstel: Wat van ‘n kombinasie van twee verskillende sportsoorte, skaak en ‘n balverwante sport. Toe dink ek, wat sal ‘n gepaste sport wees? Netbal, want almal kan dit speel of vining aanleer, daar is netbalonderwysers wat netbal aanbied en dit balanseer skaak perfek uit. Aangesien die meerderheid seuns van skaak hou en meer meisies van netbal hou, was netbal die regte keuse. Met skaakbal was almal buite hul gemaksones.

Het daar enigsins iets verkeerd geloop?

Ja, daar het, veral met die reëlings. Die plan was om 16 spanne in te skryf, maar omdat die aanvraag daarvoor so groot was op die dag voor die toernooi, het ons toestemming gekry van Laerskool Totius om van hul skaakstelle te leen. Andersins moes ons ook die toernooi korter maak as gevolg van ‘n paar spanne wat laat opgedaag het en kinders wie nie geweet het teen wie hulle speel nie. Dit het alles vertraag en ek moes die moeilike besluit neem om die toernooi te verkort, anders sou ons nooit klaarkry nie. Op die einde het alles verder goed verloop met ‘n fantastiese eindspel.

Wie het vir jou met die reëlings gehelp?

Beide die eerste skaak- en netbalspanne het ingestem om te help, en met ‘n paar onderwysers het ons aan die werk gespring. Met die netbal het Corné my veral baie gehelp en sonder hom kon skaakbal nie plaasvind nie.

Gaan daar ooit weer ‘n skaakbaltoernooi plaasvind?

Ons beplan eintlik om die skaakbal ‘n tradisie te maak, as ‘n hoofmentor portefeulje-projek. Skaakbal gaan definitief weer verskyn aangesien ons so baie ondersteuning gekry het van die leerders. Ons kan nie wag om weer ‘n toernooi te reël nie.

Op die einde van die dag het Alexander die finale tellings met die res van die skool gedeel en die matriekseuns se span, Skaakballas, het koning gekraai.

Skaakbal is ‘n voorbeeld van twee wêrelde wat nie gewoonlik ontmoet nie, maar aan die einde van die dag ‘n fantastiese kombinasie geskep het.