[Teané van der Merwe]
Die vakansie was veral opwindend vir die eerste span krieketseuns. Hulle het aan die Somerset College-toernooi deelgeneem, waar hulle vyf wedstryde oor vyf dae gespeel het. Dit was die eerste keer wat hierdie span aan hierdie toernooi deelgeneem het en dus was hulle vasberade om hulself te bewys.
Die toernooi het op Saterdag, 21 September afgeskop met ‘n wedstryd teen St. Andrews, Bloemfontein. Die wedstryd het nege-uur die oggend begin met DF wat besluit het om eerste te boul. Die wedstryd is vroeg beëindig, want daar was nie genoeg tyd vir DF om die telling te bereik voordat dit donker geword het nie.
Die volgende wedstryd was teen Hoërskool Framesby. Hierdie wedstryd het ongelukkig ook, om dieselfde rede, vroeg geëindig. Ons is wel steeds ongelooflik trots op die seuns in hierdie span, aangesien dit die eerste keer was wat hulle in hierdie formaat gespeel het.
Maandag het die meeste aksie plaasgevind en DF het teen Reddam Constantia gespeel. Die skoolgronde was beeldskoon en dit was ‘n lekker dag om krieket te speel. DF het eerste geboul en was vasberade om ‘n wedstryd voor die einde van die toernooi te wen.
Die span se boulaanval het goed gelyk, alhoewel ons eers laat in die wedstryd begin paaltjies neem het. Aan die einde van die eerste helfte het Reddam 405 vir 9 paaltjies aangeteken. Dit was DF se beurt om te wys wie baas is. Etienne van der Merwe en Sebastian Gelderblom was die eerste twee kolwers op die veld. Die toeskouers het in spanning gekyk hoe die wedstryd verloop. Hulle het ongelukkig nie die telling bereik nie, maar dit was steeds ‘n opwindende wedstryd vir almal.
Dinsdag het DF teen Outeniqua gespeel en Outeniqua het eerste gekolf. DF het 40 vir 3 aangeteken, maar ongelukkig het die wedstryd van daar af begin agteruitgaan. Outeniqua het ‘n verstomende 400 lopies teen DF geslaan in 50 boulbeurte. Hulle aanvangsbouler het egter ‘n 200-tal geslaan, maar hy het sy dyspier beseer en kon dus nie in die tweede helfte boul nie. DF het ongeveer 200 geslaan in die tydperk van 50 boulbeurte.
Woensdag het DF die einde van die toernooi bereik. Dit was die laaste T20 voordat die toernooi verby is. DF Malan het teen Paul Roos B in ‘n verskriklike spanningsvolle wedstryd gespeel en DF het met twee paaltjies en agt balle verloor.
Alhoewel die toernooi nie verloop het soos wat ons graag sou wou hê nie, is ons steeds baie trots op hoe die eerste krieketspan gevaar het en ons wens hulle alle sterkte toe vir die seisoen wat voorlê.
Teanè van der Merwe
As Teané nie by die krieketnette is nie, verslind sy leesboeke. Sy hou van nuwe resepte probeer en spandeer baie tyd by die perdeplaas.