Kaylin Grobler
Reuse beton-drake spoeg vuil vlamme, verstik daarin en hoes dan rooi rookwolke uit.
Dit is algemeen bekend dat besoedeling besig is om die aarde te verwoes. Fossielbrandstowwe word misbruik as ‘n nie-hernubare energiebron en is ‘n hoofoorsaak van baie van die lugbesoedeling en aardverwarming wat ons in die gesig staar.
Keer op keer word daar aan ons gesê dat ons die generasie is wat al hierdie probleme gaan moet oplos. Kenners van talle verskillende beroepsvelde is tans besig om die volgende plaasvervanger vir fossilebrandstowwe te soek. Dit is dikwels óf te duur óf te skaars óf te skadelik. Die probleem is egter nie met die tegnologie of natuurlike hulpbronne nie, maar met ons strategiese denkpatroon. In plaas daarvan om op soek te wees na ‘n hulpbron of uitvindsel wat die wêreld gaan verander, moet ons eerder dink aan ‘n verskeidenheid energie-genereerde alternatiewe.
Alge is die derde generasie biobrandstof wat as ‘n alternatiewe energiebron gebruik kan word. Alge is plantmateriaal, groei baie vinnig en kan selfs deur gewone mense in hul agtertuin vervaardig word deur dit in water te laat groei en in direkte sonlig te plaas. Die grootste rede waarom dit nog nie grootskaals gebruik word nie, is omdat dit tans meer energie gebruik om dit te prosesseer as wat dit bied.
Orbitale sonkrag is ‘n voorbeeld van ‘n futuristiese tegnologie wat gebruik word deurdat sonpanele op ‘n satelliet-tipe masjien gebou word wat om die aarde wentel — ver genoeg van die aarde af om die aarde se skadu te vermy en te alle tye strale van die son te kan opvang. Die energie sal omgeskakel word en as mikrogolwe na ‘n ontvanger op die aarde se oppervlak gestuur word. Daar sal dit weer na bruikbare energie omgeskakel word. Hierdie manier van energie-opwekking sal aanvanklik gebruik word vir militêre gerbruik en vir natuurramp-krisisse. ‘n Groot aantal sterftes is die gevolg van ‘n gebrek aan elektrisiteit vir mediese sorg.
Verskillende tegnologieë en hulpbronne het verskillende doeleindes.
Fossielbrandstowe opsigself is nie ‘n slegte idee nie, maar dit word uitgeput. Dit word in oormate gebruik, wat skadelike nagevolge vir die omgewing inhou. Dieselfde gaan gebeur met enige ander natuurlike hulpbron as ons slegs dit gebruik vir energie-opwekking. Daarom moet ons van ‘n paar verskillende metodes van energie-opwekking gebruik maak. Die doel en omgewing is bepalende faktore.
Soms voel ons hande te klein om ‘n verskil te maak, maar saam kan ons groot dinge bereik. Stukkie-vir-stukkie sal ons saam die draak slag.
Wat is in jóú klein hande om ‘n groot verskil te maak?
https://www.greenpeace.org/usa/research/8-reasons-why-we-need-to-phase-out-the-fossil-fuel-industry/Is Algae The Fuel Of The Future? | Answers With Joe