[Kaylin Grobler]
Die afgelope week het ek ontsettend gefrustreerd gevoel. Oral hoor ons dat ons moet blom terwyl ons nog jonk is. Ons moet streef na ‘n helder toekoms. (Ons mag nie agter raak nie.) Intussen moet ons nog aan die lewe bly! Dit voel asof iéts die heeltyd agterbly.
Terwyl ek so moedeloos was, het ‘n vriendin ‘n wyse stukkie raad gegee: Sonder slaap val alles deur die mat. Mét goeie slaap het ‘n mens energie om te prioritiseer.
Die eerste stap tot gesonde slaap is om op te let na ons huidige gewoontes. Dit is nie net ons roetine 30 minute voor slaaptyd wat tel nie, maar die hele dag se doen en late speel ‘n rol.
Gesonde slaap is grotendeels afhanklik van die liggaam se sirkadiese ritme. Dit is die ritme wat min of meer daagliks in ‘n siklus van 23 tot 25 uur herhaal word. Probeer om sover as moontlik op dieselfde tyd te gaan slaap en wakker te word. Dit veroorsaak dat jou sirkadiese ritme die regte aanduidings volg en verhoed dat jy moeg raak wanneer jy moet wakker wees en wakker is as jy wil slaap. Gaan slaap ook wanneer jy moeg voel. As jy moeg is teen nege-uur in die aande is dit maklik om weer ‘n tweede asem te skep, maar dit beteken dikwels dat jy eers weer aansienlik later moeg genoeg sal voel om aan die slaap te raak.
Ironies genoeg, speel middagslapies en kaffeïen-inname ‘n groot rol in slaapversteurings. Kaffeïne vul die spasie in die brein waar ‘n belangrike slaaphormoon moet inbeweeg. Koffie maak ‘n mens nie wakkerder nie, dit keer ‘n mens se brein om die nodige leidrade te ontvang vir die regulering van jou sirkadiese ritme. Kaffeïen-inname is dus nie meer voordelig ná middagete nie, omdat dit jou slaaphormone blokkeer vir later wanneer jy dit nodig het. Soortgelyk, is middagslapies goed, maar om te slaap te naby aan slaaptyd (selfs tussen vyf- en sesuur in die middag) kan jou sirkadiese ritme op ‘n prettige tuimeltrein gooi.
As jy agterkom dat jy ‘n rukkie wakker lê en probeer slaap, klim uit jou bed uit! Jou bed moet met slaap geassosieer word – nie met moedeloos rondrol of angs nie. Doen iets ontspannend soos om te strek of ‘n boek te lees op die bank. Die halfuur wat jy spandeer om iets te doen waarvoor jy lief is, sal jou op die ou einde baie slaap spaar.
‘n Mediese student het onlangs voorgestel dat ek ‘n glas louwarm water met ‘n knypie sout in drink sodra ek wakker word. Wetenskap bewys dat dit talle voordele inhou. Dit laat jou onder andere meer energiek voel in die oggende en ontspanne in die aande. (Jou familie sal jou net vir die eerste paar dae agterdogtig aanstaar.)
Voor jy gaan slaap, noem drie goeie dinge wat die dag gebeur het en hoekom dit gebeur het. Herinner jouself ook aan een ding waarna jy kan uitsien en wat jou ‘n rede sal gee om die volgende dag op te staan. Dit kan iets eenvoudig wees soos om Futurelife Crunch te eet of om jou beste maatjie by die skool te sien.
Ek kan ‘n klomp wakkerskrik feite noem oor hoe slaapverlies negatiewe kort- en langtermyn gevolge inhou. Ons almal weet egter dat slaap noodsaaklik is vir menslike funksionering. Vir een of ander rede kry ons dit steeds reg om onsself te oortuig dat dit nie op ons van toepassing is nie.
Om min te slaap, het ‘n onderliggende prestasie geword onder tieners. Die feit bly staan; om min te slaap is nie ‘n superpower nie.
Kom ons wees slaapmonsters en nie monsters sonder slaap nie.
Kaylin Grobler
Kaylin is ‘n kreatiewe, avontuurlustige dagdromer. Volgens die Myers Brics-persoonlikheidstoets is haar persoonlikheidstipe ENFP. Sy bring minder tyd as wat sy graag wou op die strand deur. Kaylin se belangrikste eienskap is dat sy haar identiteit in die Here vind en dit is wat haar vryheid gee.