Somer op sy beste!

[Lené Britz]

Die son skyn helderder, die dae word langer en die vakansie lê al op die horison: Die somer is hier! Dit is die perfekte tyd om nuwe dinge te probeer, saam met vriende en familie te kuier en natuurlik ’n bietjie te ontspan. Hierdie somer is daar iets vir almal om na uit te sien. Van die nuutste somertendense, heerlike nuwe resepte, prettige fiksheidsidees en selfs opwindende vakansieplanne en aktiwiteite.

Met die aanbreek van die somer kom daar natuurlik ook nuwe tendense. Van die gewildste opsies in die modewêreld is kleurvolle patroonrompies, asook van-die-skouer-af-hempies. Ander gewilde items sluit gemaklike, lang denimkortbroeke en midi-rompe in. Die fokus is veral op gemaklike – maar steeds stylvolle – uitrustings wat maklik vir ’n warm somersdag aangepas kan word. 

Vakansie beteken natuurlik ook hope tyd saam met vriende. Van rustige dae by die see, ’n besoek aan die Iziko Museum of mini-golf tot opwindende uitstappies na die speletjies-arkade. Geldspaar is ook iets wat ons in gedagte moet hou, so goedkoper uitstappies is altyd slim opsies. Plekke soos Groenpunt Park,Seepunt Promenade en Majik Forest is ideaal vir lekker informele fotosessies saam met vriende. Dit skep ook die perfekte geleenthede om goeie herinneringe te skep en vir ewig vas te vang.

Wanneer dit by somerplanne kom, is daar eindelose moontlikhede om die vakansie interessant te hou sonder om jou bankrekening in die rooi te kry. Net ’n paar idees om te oorweeg is pieknieks saam met vriende, fietsritte op ’n nuwe roete of selfs ’n buitelugfliek. Vir diegene wat eerder net wil terugsit en ontspan, is sterrekyk, toets van nuwe vars resepte of ’n kreatiewe aand saam met vriende ook goeie opsies.

Somertyd en vakansie is die perfekte geleentheid om te eksperimenteer met heerlike, verfrissende happies en drankies saam met jou vriende en familie. Hier is ʼn resep wat jy self kan probeer:

Vinnige aarbei-limonade:

  • 1 koppie vars aarbeie
  • 1 ½ koppies witsuiker
  • 4 ½ koppies water
  • 1 ½ koppies varsgedrukte suurlemoensap
  1. Gebruik ’n versapper om die aarbeie tot ’n puree te verwerk. Sit dit deur ’n fyn sif om die pitte te verwyder.
  2. Roer die suiker en 2 koppies water saam in ’n klein kastrol oor matige hitte.
  3. Bring tot kookpunt en roer totdat die suiker opgelos is. Haal van die hitte af en laat afkoel.
  4. Gooi die suurlemoensap in ’n kan van ongeveer 2 liter. Voeg die suikerstroop en aarbeipuree by en roer deeglik deur. Verkoel in die yskas totdat dit yskoud is.
  5. Wanneer dit gereed is om voor te sit, voeg 2 ½ koppies koue water by en roer. Proe en voeg nog water by as dit te soet is.
  6. Sit voor in ’n mooi glas met baie ys en geniet.

En siedaar….somer op sy beste!

Lené Britz

Lené is ’n kreatiewe en nuuskierige persoon met ’n groot liefde vir lees, skryf, bak en nuwe uitdagings. Sy geniet dit om nuwe idees te verken en haar kreatiwiteit op verskillende maniere uit te leef.