[Caro Thirion]
Ons is kniediep in die vierde kwartaal en die somervakansie is om die draai. Ons wil almal tyd in die warm weer spandeer en Kaapstad bied vir ons verskeie maniere hoe om die sonskyn te kan waardeer en geniet.
Strandaktiwiteite
Daar is verskeie lekker strande hier in die Kaap, soos Muizenberg en Clifton. Die strand is die perfekte plek om tyd te spandeer saam met familie en vriende. Jy kan swem in die yskoue water van Clifton, jou sonbrand regkry vir die volgende skooljaar of jy kan selfs by Muizenberg se strand gaan leer hoe om branderplank te ry.
Verken die natuur en waardeer die landskap
Alhoewel nie almal mal daaroor is om hulle vakansietyd te spandeer deur aktief in die buitelug te wees nie, is Kaapstad juis so bekend vir die asemrowende natuurlewe en die diverse plante en diere. Jy kan Tafelberg en Leeukop verniet gaan uitklim en daar sal jy beloon word met ‘n uitsig waarvoor toeriste baie geld betaal. Jy kan ook met die kabelkarretjie tot bo-op Tafelberg ry. Dit kos R185 vir kinders tussen 4 en 17 jaar en R370 vir volwassenes.
Stadsuitstappies
Die stad bied so baie lekker aktiwiteite wat jou kan besig hou dié somervakansie. Jy kan die V&A Waterfront besoek, waar jy ‘n groot verskeidenheid eetplekke het om van te kies, wat elke smaak sal pas. Nie ver van die V&A Waterfront af nie, is die Twee Oseane-akwarium. Dit kos net R250 per persoon om vir die haaie, skilpaaie en pikkewyne te gaan kuier. Jy kan ook die Iziko South African Museum besoek. Die museum het ‘n versameling van fossiele wat amper 700 miljoen jaar oud is en dit kos slegs R40 as jy jou Suid-Arikaanse ID wys.
Iets om by die huis te doen
Partykeer raak die son ‘n bietjie te skerp, die sonblok is net nie sterk genoeg nie of die hitte raak net te veel. ‘n Maklike aktiwiteit om by die huis te probeer, is om te bak. Pinterest het ‘n magdom verskillende resepte wat jy kan uittoets, soos koekies, kaaskoeke en kaneelbolletjies. Jy kan by Beads & Gems in Brackenfell kraletjies koop om jou eie bandjies en hangertjies te maak saam met jou vriende. Daar kom ook ‘n paar opwindende nuwe films uit dié somer wat jy kan gaan kyk: Moana 2, Transformers One, Joker: Folie a Deux en nog vele meer.
Daar is geen rede vir jou somer om vervelig te wees nie, so geniet die warm weer en laat hierdie voorstelle as inspirasie dien om nog avonture te ontdek langs die pad.
Caro Thirion
Caro spandeer die meeste van haar tyd aan kultuur. Sy sing in die koor en dans as ‘n buitemuurse aktiwiteit. Sy geniet dit om na musiek te luister, maar as jy vir haar vra wat haar gunstelingliedjie is, sal sy nie slegs een kan kies nie.