Vasti le Roux
Terwyl ons grondpadlangs deur die Karoo ry, met net ’n enkele botteltjie water oor in 40 grade hitte, vra een van my broers deur die sweet van die agterste sitplek af: “Hoekom kon ons nie eerder by die see gaan vakansie hou het nie?”
Geldige vraag, gegewe die omstandighede, en dit het natuurlike ‘n vreeslike vurige gesprek begin oor watter een van die twee die beste vakansiebestemming is. Kus of binneland? Ten minste het dit almal se aandag vir ʼn hele paar kilometers van die hitte, dors, sprinkane en stof afgetrek.
Ja, dit is heerlik om elke dag te kan swem in die see en skulpe op te tel, maar alles wat jy besit word nat en vol sand in die proses. Sand en sout op jou vel, in jou oë, sand in jou klere, sand in jou kos en selfs sand tussen jou tande. Dis amper makliker om die plekke op te noem waar daar nié sand inkom nie! Voeg daarby, al die gevare wat skuil in die see: haaie, bloublasies, haaie, krappe, haaie en seemeeue met ʼn lus vir wat ookal eetbare ietsie jy in jou hande het. Maak die sielsverrykende uitsigte oor die see op vir die hope sand wat saam huis toe kom? Maak die ritme van die golwe wat jou snags aan die slaap sus op vir die hartaanval of twee wat jy opdoen elke keer as jy ‘n mede-rondplasser se kop misgis vir ‘n haai se vin?
Dit wou voorkom of die voorste sitplekke besig was om die debat te wen, want dit klink asof die binneland die beter keuse is, maar die agterste sitplek was gereed om sy saak te stel.
In die binneland is dit nie sand wat jou menswees oorneem nie, maar ‘n dowwe, rooi stof wat jou wit sokkies bloedrooi vlek. Dit is oral. Oral waar sand kan kom en meer. Sand is nie twee dae later nog in jou neusgate nie! Kom ons vergeet ook nie van die rooi en geel sprinkane nie. Daar is wel die totale anderste landskap om te waardeer. Hoe verder binneland-in jy beweeg, hoe wyer word die vlaktes, hoe verder die vistas en hoe meer tasbaar die verlatenheid. Die tipe verlatenheid wat aan jou binneste vat en jou laat vergeet in watter eeu jy is. Met ‘n droë hitte die een dag en ‘n donderstorm die volgende, word jy op jou tone gehou en net genoeg belofte van verligting gebied om nie weg te hol nie.
Toe daar gestop word by ʼn padstal vir welkome verligting, het ons daar in die koelte van die stoep tot die slotsom gekom dat dit eintlik onmoontlik is om die een bo die ander te stel. Altwee het sy eie irritasie en negatiewe aspekte, maar altwee het ook weer sy bekorings waarna jy maande later steeds terugverlang. In beide gevalle – kus en binneland – sak die skaal darem ver meer aan die voordele se kant. Die besluit hang dus net af van jou as vakansieganger en wat jy verkies: stof of sand in jou siel?
Vasti le Roux
Vasti is die grootste katliefhebber wat jy ooit sal ontmoet. Sy is mal oor lees, geskiedenis van enige aard, musiek luister en het ʼn ongesonde obsessie met mediese dramas.