Stres tot sukses: Wenke vir jou volgende toets

[Daniella Smith]

Die druk was aan die einde van verlede kwartaal hoog met almal wat vir hulle eerste eksamens van die jaar voorberei het. Ek is seker almal was senuweeagtig oor die toetse wat voorgelê het, maar ek dink die graad 8’s was ’n bietjie banger. Dit was tog hulle heel eerste hoërskooleksamen. 

Natuurlik het almal hulle eie ervarings gehad. Party het gedink dit was aaklig en is so bly dat dit verby is. Ander het weer gevoel asof dit nie eintlik so sleg was nie.

Nadat ek met ʼn paar graad 8-leerders gesels het oor hul ervarings, het ek besluit om ʼn lys saam te stel van die belangrikste wenke wat huidige – en selfs nuwe – graad 8’s kan help om hulself goed voor te berei vir enige toets of eksamen.

  1. Begin betyds leer

Dit is dalk vanselfsprekend, maar wel baie belangrik. Dit help nie om ʼn dag voor die toets te begin leer nie. Begin lank genoeg voor ʼn toets of eksamen voorberei, sodat jy meer as een keer deur al jou werk kan kom. Dit beteken nie jy moet konstant leer en geen tyd maak vir enige iets anders nie. Dit help om pouses te neem vir iets anders.

  1. Gee aandag

Konsentreer soveel as moontlik in die klas sodat jy niks belangriks mis wat jou onderwyser sê nie. Soms bespreek die onderwysers inligting  wat nie noodwendig in die handboek is nie, maar dit is net so belangrik. Dit help dus ook om notas te maak, sodat jy seker kan wees jy mis niks nie.

  1. Glo in jouself

Dit is baie belangrik om in jouself te glo. ’n Positiewe ingesteldheid maak ’n groot verskil. As jy jouself die heeltyd oortuig dat jy swak gaan doen, raak dit moeiliker om gemotiveerd te bly.

  1. Rus

 Moenie tot laat in die nag sit en leer nie. As jy te min slaap, sukkel jy om te konsentreer en alles voor ’n toets te onthou. Leer soveel as moontlik deur die dag en gaan slaap vroeg genoeg sodat jy ten minste sewe tot agt ure se slaap kan kry.

  1. Eet gesond en drink water

Jou liggaam en brein het die regte brandstof nodig om op hul beste te funksioneer. Eet gebalanseerde maaltye, moenie ontbyt oorslaan nie en drink genoeg water deur die dag.

Om af te sluit, moenie voor ’n eksamen so gespanne wees nie. Met ʼn positiewe houding, goeie gewoontes en genoeg slaap, is jy reeds halfpad op pad na sukses.

Daniella Smith

Daniella is ’n graad 8-leerder wat baie daarvan hou om vir haar en haar gesin lekkernye te bak. Sy het ook ’n groot passie vir dans.