Swiftly gesproke

[Isabella Huisamen]

Die wêreldbekende popster, Taylor Swift, het dit weer reggekry om ’n album vry te stel wat rekords breek. Haar splinternuwe album, The Life Of a Showgirl, is op 3 Oktober vrygestel en teen 12 Oktober was dit reeds nommer een op die Billboard Hot 200. Hierdie album het ʼn totale nuwe deur oopgemaak vir moderne popmusiek.

Sy het die album bekendgestel tydens haar verskyning op die potgooi, New Heights, wat deur haar verloofde, Travis Kelce, en sy broer, Jason Kelce, aangebied word. Dit het ʼn roering onder Swifties veroorsaak, aangesien dit heeltemal onverwags was.

Swift het al tydens haar toer in Europa aan hierdie album begin werk. Sy baseer haar liedjies meestal op haar romantiese verhouding met die Amerikaanse sportman, Travis Kelce, en op die kultuur en belewenis van haar wêreldbekende toer: The Eras Tour. Sy beskryf die album as energiek en sê dat dit ware insig gee in die ingewikkelde lewe van ʼn popster, wat baie meer uitdagings het as wat die res van die wêreld dink. Sy pak egter nog steeds daardie uitdagings met ʼn glimlag aan.

Luisteraars beskryf hierdie album as ʼn totale ommekeer van wat haar musiek oorgedra het in die afgelope vyf jaar.
Vanaf 2020 het Taylor Swift vyf albums vrygestel, insluitend The Life Of a Showgirl. Die vorige vier albums was meer somber en melancholies. Die liedjies op haar vorige albums het gedelf in die tema van romantiese mislukking en die negatiewe effek wat vorige verhoudings en situasies op haar geestesgesondheid gehad het. Op haar nuwe album is die liedjies meer lewendig, opgewek en positief. Baie luisteraars is aangetrokke tot Swift se hartseerder liedjies en dus sal dit tyd neem om aan die nuwe liedjies gewoond te raak. Dit is goeie nuus om te sien dat sy nou emosioneel gesonder is en weer oor die geluk in die lewe kan skryf.

Tans is die bekendste liedjie op die album “The fate of Ophelia”. Dit is ’n liedjie waarvoor Taylor Swift haar inspirasie gevind het uit die beroemde Shakespeare se Hamlet, spesifiek van die karakter Ophelia. In die toneelstuk word Ophelia deur die mans in haar lewe beheer en uiteindelik verdrink sy.

Swift gebruik hierdie storie as ’n metafoor vir emosionele pyn, maar sy verander die oorspronklike tragedie in iets hoopvol.

Taylor Swift het ʼn enorme ondersteuningsgroep wat agter haar staan as gevolg van haar slim lirieke en saamvoel met haar liedjies. Sy is beslis ʼn musikale meester.

Isabella Huisamen

Isabella is mal oor hokkie en swem. Wanneer sy nie besig is op die sportveld nie, spandeer sy tyd met haar hond.