[Mieke Verster]
Op 26 Mei 2023 het Disney hul nuutste aksiefilm, The Little Mermaid, vrygestel en alhoewel daar baie kontroversiële menings oor hierdie fliek is, is dit tog ‘n Disney-produksie, so dit kan nie so sleg wees nie. Of kan dit?
The Little Mermaid gaan oor die nuuskierige meermin-prinses, Ariel, wat ‘n groot belangstelling in die wêreld bo hare het. Haar pa, Koning Triton, is baie gekant teen hierdie stokperdjie, maar Ariel gaan natuurlik teen haar pa se wense en red ‘n prins wat van sy skip afgeval het tydens ‘n enorme storm. Te danke aan ‘n bietjie Disney-towerkuns het Ariel en die prins onmiddellik verlief geraak. Desperaat, het Ariel ‘n ooreenkoms met Ursela, die seeheks, aangegaan om haar stem vir bene om te ruil. Met die hulp van haar vriende, Sebastion, Flounder en Scuttle, gaan Ariel op ‘n lewensveranderende avontuur wat vir haar wys dat die menslike wêreld dalk nie so sleg is, as wat sy geleer is nie.
Baie mense was geskok om te hoor dat die Amerikaanse aktrise, Halle Bailey, in 2023 die rol van Ariel sou vertolk, omdat mense nie gedink het dat sy by die beeld van Ariel pas nie. Op die ou ent was sy een van die beste keuses vir hierdie film. Aan die ander kant van die spektrum was Jonah Hauer-King, wat die rol van prins Eric vertolk het, een van die film se swakste keuses.
Daar was geen konneksie tussen die twee akteurs nie en hulle moes definitief nie vir prins Eric ‘n liedjie gegee het om te sing nie.
Nog ‘n paar goed wat my gepla het, was dat hulle vir Scuttle in ‘n meisie verander het en dat hulle nuwe name vir Ariel se susters gegee het. Dit was onnodige veranderinge wat afgewyk het van die oorspronklike film.
Gedurende die Under the sea-liedjie begin Ariel saamsing, wat dit laat lyk asof sy saamstem met wat Sebastion sê oor hoe fantasties dit onderwater is. Die rede hoekom Sebastian hierdie liedjie sing, is juis omdat Ariel nie met hom saamstem nie.
Boonop was die groot bakleiery aan die einde van die film baie gejaagd teenoor die oorspronklike.
Aangesien ek nie so mal oor hierdie film was nie, sal ek dit 3/5 sterre gee, maar daar was nog steeds ‘n paar oulike en snaakse oomblikke. Ek het dit ook geniet om heel agter in die rolprentteater saam te sing en te dans op die maat van my gunsteling-Disney-musiek.
Mieke Verster
Mieke se gunstelingstokperdjies is om netbal te speel, boeke te lees en om vir 6-jariges gimnastiek af te rig. Haar vriende en familie beskryf haar as entoesiaties en gedrewe en sy pak enige uitdaging met selfvertroue aan.