[Annika van Zyl]
Die adellikes van ouds se rykdom was berug. Koning Tut se swierige troon, koningin Elizabeth II se Arabiese resiesperde en sonkoning Lodewyk se kolossale kastele het behoorlik beïndruk.
Die moderne mens dra egter sy mees kosbare besitting op sy pols. Tik, tik, tik word ons herinner aan hierdie skat se vlietende aard. Nie hernubaar, onvervangbaar, tik, tik die slae soos ‘n hartklop. Elke dag word ons herinner aan sy waarde. Dit is dan juis hierdie aard wat bydra tot ons strewe na minimalisme en eenvoud, en by uitstek die kuns om nee te sê.
Die tyd-vraagstuk
Elke individu ontvang weekliks dieselfde tydsrantsoen. 7 dae, 168 ure, 10 080 minute en 604 800 sekondes. Steeds lyk almal se uitset anders, afhangend van dit waarop hulle “ja”, “nee” of “miskien” antwoord.
FOMO | Fear of missing out
“Almal gaan daar wees!“ “Bly nog so bietjie langer.” “Ek wil nie alleen gaan nie.”
Klink dit bekend? Voor jy jou kom kry, het die gevreesde FOMO jou beetgepak. FOMO is gesetel in ons behoefte om te behoort en deel te wees. Dit is dus ‘n aktiewe besluit om te sê: Genoeg is nou eers genoeg. Nee dankie, ek sien julle môre.
Instagram-blaaiery
Die gemiddelde tiener spandeer ongeveer sewe ure per dag aan skermtyd. Dit is wetenskaplik bewys dat die nimmereindigende en passiewe geblaai op sosiale media dopamienafskeiding versteur en ‘n verslawende effek het. Dit is maar een voorbeeld van verkwiste tyd waarvoor ons kan nee sê en terselfdetyd beter voel oor onsself. Wees dus bewus van jou gemoed en maak seker dat jy nie ‘n slagoffer van hierdie sluimerende tydwolf word nie.
Rus bly belangrik
Met al die hooi wat ons op ons vurke karwei, raak die pad soms lank en swaar. Alledaagse spanning is een ding, maar uitbranding ‘n ander. “Ja” vir alles sê kan jou maklik op ‘n pad van geen omdraai stuur. Wees van die begin af eerlik oor wat jy kan behartig en sê liewer gouer as later, nee.
Die feit bly staan, jy kan nie alles doen nie. Partykeer moet een aksie prysgegee word om ‘n ander voorop te stel. Ongeag van die kliënt se bankbalans, kan tyd nie gekoop word nie. Dit moet met slimdink en mooi werk gespaar en afgemeet word. Nee sê vir onbenullighede blyk die beste geweer in ons arsenaal te wees. Besluit wat jy wil bereik, skryf dit neer en sê met oorgawe ja vir dié aktiwiteite wat jou sal toelaat om jou doelwitte te verwesenlik.
[Foto: Lana du Toit]
Annika van Zyl
Annika is altyd op ‘n drafstap en geniet atletiek, seevakansies en ‘n boeiende speurverhaal. Sy is vanjaar in graad 9, Hoërskool DF Malan is haar hart se punt en tyd saam met vriende en familie is vir haar kosbaar.