[Hanler van Eck]
In ‘n wêreld waar elke sekonde tel, het TikTok nie net ons skerms oorgeneem nie, maar ook ons gesprekke.
TikTok is nie meer net ‘n toep om na vinnige video’s te kyk nie, maar dit is ‘n platform wat die manier waarop tieners kommunikeer, radikaal verander het. Van die skool se gange tot WhatsApp-groepe, het TikTok ons geselsies korter, vinniger en visueler gemaak. Maar hoe het hierdie platform so ‘n groot invloed op die manier waarop ons met mekaar kommunikeer, veral in ons skoolomgewing?
Korter en vinniger kommunikasie
TikTok se 60-sekonde videoformaat het daartoe gelei dat tieners begin verkies het om vinnig, punt-vir-punt te kommunikeer. Terwyl ons vroeër lang gesprekke gevoer het oor ons gunsteling-TV-reekse of stokperdjies, deel ons nou eerder kort TikTok-video’s om ons emosies, grappies of nuus te deel. Hierdie kort video’s dra vinnig die essensie van wat ons wil sê oor, wanneer dit soms voel asof woorde nie genoeg is nie.
Visuele kommunikasie neem toe
Ons taal is nou baie meer visueel. ‘n TikTok-video kan ‘n komplekse gevoel of idee met net een liedjie uitbeeld, en ons het geleer om te interpreteer wat mense deur hierdie visuele leidrade probeer sê. Selfs in die klaskamer hoor ons hoe mense hulself op ‘n nuwe manier uitdruk: “Het jy daardie TikTok gesien?” Dit vervang dikwels tradisionele tienergesprekke.
Gier-gebaseerde gesprekke
TikTok-neigings verander daagliks en dit beteken dat gesprekke onder tieners ook vinnig ontwikkel. Wat vandag snaaks is, is môre dalk vergete. Hierdie spoed van veranderende neigings beteken dat ons voortdurend moet aanpas om deel van die gesprek te bly. Dit kan ook druk op sommige leerders plaas om in te pas en nie “uit” te voel nie, wat ‘n nuwe dinamiek in ons sosiale kringe bring.
Die krag van memes en binnegrappies
TikTok het ‘n nuwe generasie van memes en binnegrappies voortgebring. Wanneer vriende vir mekaar iets wil vertel, hoef hulle dikwels net na ‘n spesifieke TikTok te verwys en almal weet dan presies waarvan hulle praat. Hierdie gedeelde humor versterk ons bande, maar dit kan ook uitsluiting veroorsaak as iemand oningelig is oor die nuutste neigings op die toep.
Die gevare van oppervlakkige kommunikasie
Alhoewel TikTok vinnige, snaakse en kreatiewe kommunikasie bevorder, kan dit ook lei tot meer oppervlakkige gesprekke. Hierdie toep moedig ons aan om te skep en te deel wat modeneigings is, maar soms verloor ons dieper, meer betekenisvolle gesprekke in die proses. Baie mense wonder of ons generasie, terwyl ons probeer om by te hou met die nuutste danspassies of grappies, dalk die vaardigheid verloor het om oor belangrike onderwerpe te kan praat.
TikTok het die manier waarop ons kommunikeer, drasties verander. Ons dink vinniger, deel vinniger, en praat vinniger – maar dit is belangrik om te onthou dat ware kommunikasie meer as net ‘n 60-sekonde video is. Terwyl TikTok ons verhoudings en ons humor verruim, moet ons seker maak dat dit ons nie beroof van die vermoë om op ‘n dieper vlak met ander te konnekteer nie.
So, sal TikTok ons kommunikasie se toekoms bepaal of sal ons die manier waarop ons kommunikeer self beheer? Dit is iets om oor na te dink – miskien in ‘n TikTok!
Hanler van Eck
Hanler is beslis ‘n liefhebber van die literêre wêreld. As jy hom nie op die astro of by kooroefeninge opspoor nie, sal hy waarskynlik in die kombuis wees, besig om geflopte nageregte te maak.