[Teané van der Merwe]
Indien jy ‘n diereliefhebber is, is ‘n goeie vakansieplek die Kruger Nasionale Park. Met meer as 500 verskillende voëlspesies is dit ‘n jong fotograaf se droombestemming. Daar is ook 147 soogdierspesies in die Wildtuin.
Jy wonder dalk hoe groot die area moet wees as dit die habitat is van so baie fauna en flora. Twee miljoen hektaar! As jy nie reeds oortuig is om hierdie asemrowende wildreservaat te besoek nie, sal jy seker wees nadat jy meer oor die kampe gehoor het.
Die 5 beste kampe in die Kruger
5. Punda Maria
Punda Maria is die mees noordelike kamp in die Kruger. Alhoewel jy nie sommer enige van die groot katte hier sal sien nie, is dit ‘n wonderlike kamp om voëls te sien. Daar is ’n watergat naby die kamp waar jy dalk impalas of sebras kan sien. Hierdie kamp is dus lekker vir enige voëlentoesias.
4. Berg en Dal
Berg en Dal is ‘n goeie kamp vir enige familie wat opsoek is na ‘n vakansie wat die hele gesin sal geniet. Daar is baie wilde diere in die omgewing naby die kamp. Die paaie wat weg van die kamp lei, verseker dat jy wilde diere sal sien! Berg en Dal is beslis die perfekte familiekamp aangesien dit ‘n stil en rustige kamp met ‘n groot swembad is.
3. Skukuza
Dié kamp is die grootste kamp in die Wildtuin en dit is soortgelyk aan ‘n dorp. Die kamp het ongelooflike geriewe om te geniet. Die geriewe wat jy kan verwag, is ‘n golfbaan, badplaas (spa) en ‘n naelsalon. Die paaie rondom die kamp gee vir jou ‘n goeie kans om leeus, luiperds, olifante, buffels en renosters te sien. Renosters is min en skaars en om een te sien, is ‘n wonderlike ervaring. Jy moet douvoordag opstaan, anders het die leeus weggeloop en die kamp is volbespreek.
2. Laer Sabie
As jy regtig graag die Groot Vyf wil sien, is Laer Sabie die kamp vir jou. Dit is soortgelyk aan Skukuza en het ook leeus, luiperds, olifante, buffels en renosters. Laer Sabie het ‘n lekker dek met ‘n asemrowende uitsig oor die rivier. Die Mugg & Bean op die dek dra by tot die atmosfeer. Dit sorg vir ‘n lekker plek om ‘n skemerkelkie te drink. Laer Sabie is een van die gewildste kampe in die Kruger as gevolg van die lekker atmosfeer en goeie kans om talle wilde diere te sien.
1. Satara
Satara is die kamp vir leeubewonderaars. Die roetes om die kamp, veral die S100, is bekend vir leeus. Die pad het ook ‘n skilderagtige landskap van die grasvlaktes. Jy kan jouself tuis maak binne die kamp se mooi hutte. Die restaurant by Satara is ‘n Cattle Baron met smullekker kos waaraan jy kan peusel terwyl jy ‘n melkskommel geniet.
Jy kan hierdie kampe in ag neem wanneer jy jou volgende vakansie beplan by die Kruger Wildtuin. Jy kan beslis nie verkeerd gaan indien jy een van hierdie kampe as jou vakansiebestemming kies nie.
Teane van der Merwe
As Teané nie by die krieketnette is nie, verslind sy leesboeke. Sy hou van nuwe resepte probeer en spandeer baie tyd by die perdeplaas.