[Izabelle Visser]
Het jy al ooit gesmag na ’n goeie boek, maar jou beursie is dolleeg? Of wil jy ’n nuwe blaadjie omslaan en meer groen wees? Dan is tweedehandse boeke die antwoord.
Jy kan baie geld spaar deur tweedehandse boeke te koop. Splinternuwe boeke kos vir boekwurms baie geld, veral as jy op een slag in groot maat boeke wil koop. ’n Gebruikte boek is meer as die helfde van ’n nuwe boek se prys. Dus kan jy dubbel die boeke koop met dieselfde hoeveelheid geld.
Om tweedehandse boeke te koop, bevorder ons omgewing. Nuwe boeke laat ’n groot impak op ons natuur. Daar word miljoene bome afgekap om papier te produseer en tonne koolstofdioksied word vrygestel tydens die druk van boeke. So, is die nuwe weergawe van The Hunger Games regtig die moeite werd?
Wees deel van die nalatenskap! Jy weet nooit wie die boek voor jou gehad het nie. Dit is al voorheen gelees en liefgehad. Nou kan jy bydrae tot daardie versameling van name. Daar is ook verrassings soos notas en verskeie aantekeninge van vorige lesers of die persoon wat die boek aanvanklik gekoop het.
Niks is beter as die reuk van ’n goeie ou boek nie. Dit gee lesers ’n gevoel van genot om hierdie interessante reuk in te asem terwyl jy lees. Alle nuwe boeke ruik dieselfde, maar ’n tweedehandse boek ruik soms na iets soet of na ’n vrolike ouma of dalk soms na ’n ou bibloteek.
Daar is ’n kans om jou gunstelingboek se eerste uitgawe te vind. Dit is altyd lekker om verras te word met jou gunstelingboek se eerste druk of net ’n ouer weergawe. Ouer weergawes se voorblaaie is gewoonlik baie mooi en gee vir jou daardie vintage gevoel.
Hierdie boeke hoef nie mooi te lyk nie. Daar is geen verwagtinge dat jou tweehandse boeke mooi moet bly nie. Jy kan dit in jou sak gooi sonder om jou te bekommer dat die bladsye vou of dat daar ’n vuil merkie daarop kom. Jy kan eet, bad en selfs op die strand gaan lees sonder enige bekommernis.
Jy weet nooit watter storie jy kry nie. Ons almal loop soms in ons bertroubare Bargain Books in met ’n spesifieke boek of tipe boek wat ons soek. Met tweehandse boeke weet jy nooit wat jy kry nie. Die boeke is almal ’n verrassing wat net wag vir jou om dit op te spoor.
Waar kan jy ’n goeie tweehandse boekwinkel vind? Bookwise Exchange in High Street Tygervalley, is ’n uitstekende tweedehandse boekwinkel waar jy ou boeke, wat jy klaar gelees het of nie in belang gestel nie, kan ruil vir afslag op jou volgende aankope. Daar is ook altyd tweedehandse boeke te koop by markies en die meerderheid van tweedehandse winkels.
Ek hoop ek het jou oortuig om daardie tweedehandse boekwinkel naby jou te besoek!
Voetnota: ’n Groot dankie aan my vriend Kobus Strydom wat my gelei het in die skryf en uitleg van hierdie artikel.
Izabelle Visser
Izabelle is ‘n graad 9-leerder wat dikwels ontspan deur skaak te speel. Sy hou van die uitdagings wat Afrikaanse debat haar bied en is gereeld lus om ietsie soets te bak.
