[Mickayla Olivier]
Tydens die Junie-vakansie het drie van DF se matriekleerders saam met 19 ander leerders van die Hoërskool Tygerberg en Stellenberg op ʼn drie week lange uitruil na Ansbach, Duitsland vertrek.
Op 22 Junie het die 22 opgewonde leerders vanaf Kaapstad Internasionale Lughawe vertrek. Twee vlugte en ʼn baie lang tussenstoplater het ons uiteindelik op Vrydag, 23 Junie in München geland.
Daar het ons Duitse uitruilstudente gewag vir die avontuur om te begin. Vanaf die lughawe het die Duitsers en Suid-Afrikaners vir twee ure van München na Ansbach per bus gery. Die bus was gevul met ʼn opgewonde gedruis en ʼn taalmengelmoes van Afrikaans, Engels en natuurlik Duits.
Ons gasfamilies het ons met ope arms verwelkom en ons tuis laat voel 13 079 kilometer van die huis af. Ons gasfamilies het ons besig gehou oor die naweek en op Sondag het byna die hele uitruilgroep by ʼn dam, Brombachsee, bymekaar gekom. Ons het mekaar beter leer ken, geswem en die heerlike somerweer geniet.
26 Junie was ons eerste skooldag en ons het die voorreg gehad om Ansbach se burgemeester te ontmoet.
Elke week het ons op twee groot uitstappies gegaan. In die eerste week het ons Rottenburg en Bamberg besoek en in die tweede week het ons na Neuschwanstein en Nuremberg gegaan.
Op Dinsdag, 27 Junie het ons bymekaar gekom in die treinstasie in Ansbach en van daar af ʼn trein na Rottenburg geneem. In Rottenburg het die groep in twee gedeel. Die eerste groep het op ʼn stadstoer gegaan terwyl die ander groep self die stad verken het en later het die groepe geruil. Nadat albei groepe die stadstoer voltooi het, het ons vinnig middagete geëet en toe vir 25 minute gestap na ʼn Klettern Garten (vergelykbaar met Acrobranch).
Die Donderdag het ons weer by die treinstasie ontmoet en ʼn trein van Ansbach na Rottenburg geneem. In Rottenburg het Herr Assenmacher
(ʼn onderwyser van die Duitse skool) vir ons ʼn stadstoer gegee. Ons het twee ou kerke en ʼn beeldskone roostuin besoek.
Op ons volgende uitstappie het ons met ʼn bus na die grens tussen Duitsland en Oostenryk gery na ʼn natuurreservaat in ʼn woud. Daar het ons deur die woud oor brûe na die grens tot by Oostenryk gestap. Ons het middagete in die woud geëet en van die seuns was braaf genoeg om in die yskoue, potblou bergwater te gaan swem. Daarna het ons weer op die bus geklim en kort voor lank was ons by die Neuschwanstein-kasteel. Dit was werklik asemrowend en was definitief die steil berg wat ons moes uitgeklim het, werd.
Vir ons laaste uitstappie het ons ʼn trein na Nuremberg geneem waar ons die Nuremberg-dokumentasiesentrum besoek het. Dit is ʼn verskriklike groot museum gevul met die geskiedenis van die Nazi-party. Daarna het ons ʼn kans gehad om die stad te verken en moes self ʼn trein neem terug na Ansbach. Nadat ons van platform tot platform gehardloop het, het ons dit uiteindelik veilig terug na Ansbach gemaak met ʼn verrykte kennis van Nuremberg se geskiedenis en die Duitse treinsisteem.
So het ons uitruilprogram tot ʼn einde gekom en ons het ‘n laaste afskeidsaand saam geniet. Ons het daar die geleentheid gehad om vir ʼn laaste keer saam met die hele uitruilgroep te kuier voor ons lang vlug terug na Kaapstad.
Soos alle goeie dinge moes die uitruil ook tot ʼn einde kom. Die volgende dag het ons met swaar harte (en tasse) totsiens gesê vir ons Duitsers en terug na München Internasionale Lughawe gery.
Ons het uiteindelik op 12de Julie, na die avontuur van ʼn leeftyd, veilig met baie herinneringe en nuwe, lewenslange vriende in Kaapstad geland.
Ons is baie dankbaar vir die geleentheid om deel van die uitruil te kon wees en vir ons onderwysers wat ons tydens die hele toer veilig gehou het. En vir al die Dee-Effers: Duitsland behoort definitief op jou reislys te wees!
Mickayla Olivier