[Hanler van Eck]
Die skoolvakansie het tot ’n einde gekom. Terwyl ons terugkeer na die bedrywige gange van Hoërskool DF Malan, is dit noodsaaklik om te reflekteer op die onvergeetlike oomblikke van 2023 en om te herlaai vir die uitdagings wat in 2024 voorlê.
As jy gevind het dat jy tydens die Desember-vakansie met verveeldheid sukkel, moenie jouself bekommer nie! Ons het ’n paar opwindende wenke om jou besig en aan die gang te hou tydens toekomstige skoolvakansies.
- Verken jou stokperdjies
Maak gebruik van jou vrye tyd om in aktiwiteite te duik waaroor jy passievol is. Of dit nou sport, kuns of robotika is, daar is beslis geen beter tyd om jou vaardighede te verbeter en nuwe talente aan te leer nie.
- Lees, lees, lees
’n Goeie boek kan jou na verskeie, besonderse wêrelde vervoer en terselfdetyd jou verbeelding aansienlik verbreed. Vind ’n genre wat jou interesseer, besoek jou dorpsbiblioteek en verdiep jouself in die literêre wêreld van meesleurende verhale.
- Buitelugavonture
Suid-Afrika se natuurlike skoonheid is reg voor jou oë. Reël staproetes saam met vriende, gaan ry fiets, klim Leeukop of neem net die asemrowende skoonheid van Tafelberg in met ’n romantiese uitstappie na Lover’s Lane.
- Skakel met vriende
Behou kontak met vriende. Beplan speletjiesaande, uitstappies of net eenvoudige ontspan-by-die-huis-dae. Sosialisering kan jou vir ure op ’n dag besig hou.
- Liefdadigheidswerk in jou gemeenskap
Gee terug aan jou gemeenskap deur vrywillige aktiwiteite wat ander help, aan te pak. Of dit nou by ’n plaaslike liefdadigheidsorganisasie, dierereddingsorganisie of gemeenskapsentrum is, die ervaring kan belonend en genotvol wees. Glo my, dis harde werk, maar die moeite werd.
Mag hierdie wenke vir jou ’n ideale kompas wees om verveling tydens toekomstige skoolvakansies te navigeer. Gryp 2024 asof dit joune is!
Hanler van Eck
Hanler is beslis ‘n liefhebber van die literêre wêreld. As jy hom nie op die astro of by kooroefeninge opspoor nie, sal hy waarskynlik in die kombuis wees, besig om geflopte nageregte te maak.