Vakkeuses: Wat om te oorweeg en hoe om ‘n ingeligte keuse te maak

[Annika van Zyl]

Die 1ste Augustus 2024 is ‘n hoogtepunt op die graad 9-kalender. Dit is die geleentheid waartydens vakkeuses bespreek word sowel as die uitslae van die graad 8-aanlegtoetse beskikbaar gestel word. 

Vakkeuses gaan vir baie gepaard met gevoelens van onsekerheid terwyl ander se lysie lankal reeds neergepen is. Waar graad 8 vir ons  ҆n breë blootstelling gebied het, raak die tonnel nou nouer en meer gerig op die beroep wat jy moontlik wil volg. 

‘n Mens kan egter nie help om te wonder by watter vakke jy werklik aanklank gaan vind nie. Hoe balanseer belangstellings met die regte beroepsrigting? 

Beroepsvoorligters neem verskeie elemente in ag voor advies aangebied word. Aanleg, tesame met belangstelling, persoonlikheidsvoorkeur en waardes word onder andere oorweeg.

Aanleg

Aanleg is die potensiaal waaroor ‘n persoon beskik. Dit stel hom of haar instaat om ‘n bepaalde vlak van vermoë te bereik binne ‘n sekere veld wanneer dit gekombineer word met opleiding en motivering. Tydtoetse word gewoonlik gebruik om die leerder se vaardigheidsvlak vas te stel en sluit verbale en nie-verbale redenering, ruimtelike visualisering en berekeninge in. Hierdie toetse voorspel moontlike sukses in  ҆n bepaalde studierigting of beroep.

Belangstelling 

Navorsing toon dat belangstelling net so belangrik is as aanleg wanneer dit kom by beroepskeuses. Belangstelling speel ‘n groot rol in terme van werksbevrediging, interne motivering en deursettingsvermoë in die gekose loopbaan. Daar word dikwels na Holland se model verwys in terme van beroepsbelangstelling. Holland se velde sluit prakties-realisties (P), wetenskaplik (W), artisties (A), sosiale diens (S), besigheid en bestuur (B) en klerklik-administratief (K) in. Verskillende kodekombinasies word dan met verskillende beroepe geassosieer, bv  ҆n WBS-kode dui op ‘n moontlike regsberoep terwyl ‘n AWP-kombinasie op argitektuur dui. 

Persoonlikheidsvoorkeur

Persoonlikheidsvoorkeur hou sterk verband met ‘n persoon se werksbevrediging, ontvanklikheid vir die aanleer van vaardighede en geneigdheid tot uitbranding.  ‘n Persoon wat energie put uit interaksie met ander, sal dus minder geskik wees vir ‘n beroep waar daar hoofsaaklik in afsondering gewerk word. Persone met ‘n voorkeur vir struktuur en voorspelbaarheid, kan angs ervaar in beroepe waar hoë vlakke van onsekerheid en gereelde verandering teenwoordig is.

Waardes

Die insluit van waardes word dikwels nagelaat wanneer beroepe gekies word, alhoewel dit sentraal staan tot elke individu se beroepsbevrediging. Ken dus jou waardes. Waardes sluit vermoëbenutting, altruїsme, kreatiwiteit, ekonomiese sekuriteit, outonomie, aangename werksomstandighede en risiko in.  

Dit is belangrik om te besef dat die meeste van hierdie inligting deur selfassesserings ingewin word. Eerlikheid is dus geweldig belangrik om akkurate resultate te verkry. Neem ook beroepe van die toekoms in ag om seker te wees jou keuse relevant bly.

Baie sterkte aan al ons graad 9’s met die groot besluit. Gesels met mense wat binne die beroep staan wat jy oorweeg, spandeer ‘n dag saam met hulle en ervaar wat die beroep behels. Confucius se stelling bly maar waar, dié wat ‘n beroep kies waarvoor hulle lief is, sal nie ‘n dag in hulle lewe hoef te werk nie.

Annika Burger

Annika is altyd op ‘n drafstap en geniet atletiek, seevakansies  en ‘n boeiende speurverhaal. Sy is vanjaar in graad 9, Hoërskool DF Malan is haar hart se punt en tyd saam met vriende en familie is vir haar kosbaar.