[Jurgen Steyn]
Dit is geen geheim dat die meeste seuns van rekenaarspeletjies hou nie en gewoonlik kan seuns ure van hulle tyd op hierdie virtuele vorms van vermaak spandeer. Maar hoekom is seuns so geheg aan hierdie speletjies? Ons sal eers moet kyk na hoe hierdie speletjies verander het oor die jare en hoe seuns vantevore hulle tyd spandeer het.
Die eerste videospeletjie-toestel is in 1972 ontwerp deur ‘n Amerikaans-Duitse ontwerper, Ralph H. Baer. Sy skepping is die Magnovox Odyssey genoem. Voor 1972 was speletjies maar redelik vervelig (gemeet aan my standaarde) en is meestal buite gespeel. Kinders het speletjies soos albasters en bok-bok gespeel en hierdie speletjies was baie meer aktief en dalk ‘n bietjie gevaarliker. ‘n Paar gewilde speelgoed van die era voor 1972 was ketties en balle. Ketties was primitief, maar effektief. Hulle kon vensters breek, ‘n paar verveelde seuns help om die bure se hond te irriteer of net gebruik word vir beskerming teen boelies. Seuns wat in daardie tyd op plase grootgeword het, het ook baie meer vryheid as vandag se jeug gehad en kon enige tyd buite saam met hul vriende kuier .
Ons kom nou by die hoofdoel van hierdie artikel: hoekom hou seuns so baie van rekenaarspeletjies en watter voordele en nadele hou dit in. Navorsing toon dat 53% van seuns in Suid-Afrika videospeletjies speel, terwyl net 46% van meisies hierdie speletjies speel. Seuns word hoofsaaklik aangetrek na videospeletjies as gevolg van die groot hoeveelheid aksie, skadelose aggressie en uitdagings. Videospeletjies kan baie opwindend wees en bied ‘n stresvrye manier om sosiaal te wees, om van stres en frustrasie ontslae te raak en leer seuns probleemoplossingsvaardighede.
Voordele van videospeletjies speel:
- Moderne videospeletjies is baie sosiaal.
- Jy leer probleemoplossingsvaardighede.
- Videospeletjies beveg geestesongesteldheid.
- Videospeletjies kan sig en reaksietyd verbeter.
- Mense glo dat videospeletjies jou meer psigoties kan maak, maar dit veroorsaak eintlik presies die teenoorgestelde.
Nadele van videospeletjies speel:
- Dopamienverslawing
- Emosionele onderdrukking
- Stresbeserings
- Blootstelling aan negatiewe spelomgewings
- Verhoudingskwessies
Nou kan ons duidelik sien dat speletjies baie verander het oor die jare en dat nie alle aspekte van videospeletjies nadelig is nie. Dit mag dalk minder aktief wees as die vorige generasie se tydverdrywe, maar bied ‘n ander reeks voordele.
Jurgens Steyn
Jurgen is ‘n passievolle kok en permanent geboei deur sy gunstelingaksieboeke. As hy nie binnenshuis besig is nie, speel hy gholf of hy ry padfiets. Jurgen se gunstelingskoolvakke is Engels en wiskunde.