[Annika van Zyl]
Die realiteit van veranderende weerspatrone het die Wes-Kaap behoorlik laat les opsê tydens die naweek van 23 September 2023. Dorpe soos Montagu, Robertson en Ashton is besonders swaar getref toe die Nuy-rivier sy walle oorstroom het.
Vakansiegangers het verstom gestaan tydens dié langnaweek wat verseker nie binnekort deur ons Kapenaars vergeet sal word nie.
Terwyl verskeie Dee-Effers die wind en weer tydens die Top 15-skolebyeenkoms by die Universiteit van Wes-Kaapland aangedurf het, het die onweerswolke nader aan die Nuy-rivier opgesteek. Vakansiegangers was behoorlik ingehok toe paaie ontoeganklik verklaar is, en die reis huis toe onmoontlik gemaak is.
Kusdorpe soos Stanford en Hermanus het ook erg deurgeloop, met die herinnering van springgety-chaos wat steeds in almal se agterkoppe was. Tydens hierdie krisisse raak kennisse lewenslange vriende en vreemdelinge lewensredders.
Die Wes-Kaap is egter nie uniek in hierdie hoedanigheid van veranderende weerspatrone nie. Plaaslik het KwaZulu-Natal onlangs deurgeloop onder ekstreme weersomstandighede, maar dit is veral die Verengide State van Amerika wat tydens 2023 ongekende hittegolwe, sneeustorms en tornados in die gesig gestaar het.
Een ding is seker, verandering is die enigste konstante, maar hoe beskerm jy jouself teen die verwoestende aard van Moedernatuur tydens ’n vloed?
Kom ons gryp die vergrootglas en kyk na ’n paar maatreëls wat jy in plek kan sit om jouself te beveilig.
- Hou jouself op hoogte van die weervoorspelling.
- Maak jouself vroegtydig uit die voete wanneer groot vloede in ‘n streek verwag word. So sal jy nie in die paniek vasgekeer word nie.
- Wanneer jy in ’n area is wat jy nie goed ken nie, maak seker dat jy bekend is met die hooftoevoerroetes sou jy vinnig moet ontruim.
- Vermy areas teen ’n damwal of naby ’n rivier wanneer swaar reën verwag word.
- Moenie deur vloedwater ry of swem nie; die stroom kan onverwags sterk wees.
- Tydens ’n noodgeval, haas jouself na die hoogste en droogste area wat jy veilig kan bereik.
- Vermy gekontamineerde water na ’n vloed.
Volgens die weerkantoor klop die somer aan die deur in die Wes-Kaap, maar in ’n wêreld waar verandering die enigste konstante is, hou ons maar liewer ’n wakende oog.
[Foto: Yana Mans]
Annika van Zyl
Annika is altyd op ‘n drafstap en geniet atletiek, seevakansies en ‘n boeiende speurverhaal. Sy is vanjaar in graad 9, Hoërskool DF Malan is haar hart se punt en tyd saam met vriende en familie is vir haar kosbaar.