[Erica Chen]
Universiteit is ’n tydperk van selfontdekking en selfontwikkeling. ’n Plek met geleenthede en uitdagings wat die roete na jou toekoms sal uitlê. Die universiteitservaring is nie net reënboë en sonskyn nie, maar sal vir jou lewenslesse en vaardighede aanleer asook ’n dieper begrip van die wêreld.
Hierdie uitdagende fase plaas geweldige druk op tieners wat nie noodwendig weet wat hulle wil doen nie. Dus is dit van kardinale belang om goed voor te berei en te beplan. Dit behels die nodige dokumente en finansiering. Daar is gewoonlik by elke fase of inskrywing ’n deposito of registrasiefooi wat betaal moet word.
Om te beplan waar jy wil gaan studeer, moet jy die klimaat, omgewing, asook veiligheid in gedagte hou. Die vervoer van plek tot plek speel ook ‘n rol – hoe ver jy van die universiteit af bly tot waar jou naaste winkel is.
Wenke en ervaring van oud-Dee-Effers
Reagan Johnson: “Niemand gee om nie, wees net jouself. Alles wat jy doen in hoërskool is vergete. Dit is jou menswees wat op universiteit tel en jou sukses eintlik bewerkstellig. Universiteit is ook nie net vir studies nie, dit is vir netwerk. Hierdie is jou toekomstige kollegas of baas, so maak nou al konneksies vir jou toekoms.”
Emma Olivier: “Woon klasse by! Ek verstaan nie hoe mense universiteit toe gaan en dan klasse as opsioneel beskou nie. Moenie skaam wees om jou dosente te e-pos as jy oor iets wonder nie. Leer goeie maniere vir e-pos. Kyk elke dag na jou universiteit e-pos se inboks! Steek jou hand in die klas op, al is die klas groot. Deel jou menings en vra vrae, want dan onthou die dosente jou en dit is nooit ’n slegte ding nie. Doen buitemuurse aktiwiteite, want dit help om jou uit jou gemaksone te kry, vaardighede te leer en vriende te maak. Jy het tyd. Dit is soms nodig om te luister na jou liggaam en te slaap, maar ook soms nodig om laat wakker te bly. Voeg jou verwysings deurlopend by as jy ’n opstel skryf. Kies in die aande wat jy die volgende oggend wil aantrek – glo my, dit spaar soveel tyd. Hou altyd ’n klein boekie met jou to-do list, klastye en afsprake byderhand. Ek weet nie hoe ek sonder my boekie oor die weg sou kom nie. Hou altyd ’n bottel water by jou. Hê altyd iets om te lees. Neem altyd aan dat jy iets kan leer by die persoon met wie jy praat.”
Zander Taljard: “Dis ongetwyfeld belangrik om daadwerklik aan jou sosiale vaardighede aandag te gee en jou netwerk van vriende en kennisse te verbreed. Naas die akademiese kennis wat jy verkry, is mensekennis en kommunikasievaardighede die belangrikste aspekte van universiteitslewe wat jy saam met jou na die werkswêreld sal dra.”
Thaniell Walters: “Leer Engels praat!”
Leon Heynes: “Fokus meer op jouself as op jou studies.”
Hanné Steyn: “Alles sal uitwerk soos wat dit moet. Geniet die kinderlikheid van hoërskool terwyl jy kan, dit is die laaste keer wanneer jy net hard hoef te leer en nie oor veel ander dinge hoef te bekommer nie.”
Anita Chen: “Haal asem en doen dit net, probeer nuwe dinge, maar hou jou vorige vaardighede in ag. Moenie jouself verander om nuwe vriende te maak nie. Jy sal jou mense vind, wees net geduldig. Doen aansoek vir alles, maar neem jou sosiale battery in ag. Moenie jouself oorwerk nie.”
Tess Laskey: “Moenie soveel stres oor wat jy gaan doen eendag nie, niks is permanent nie.”
Joshua Daniels: “It is what it is.”
Frida Nel: “Jy moet besef dat hoërskool nie alles is nie. Dit maak nie saak of jy nie in die leerderraad was of nie of dat jy nie die eerste span gehaal het nie. Dit maak nie saak buite hoërskool nie. Hoërskool is ’n klein stukkie van jou lewe en daar is nog baie om na uit te sien.”
Ander wenke
Universiteit sal baie aspekte van jou sienings toets en dit is belangrik om geduldig en kalm te bly. Universiteit is uitdagend en jy gaan verander en leer om op jou eie te wees en met ander mense, met wie jy nie noodwendig saamstem nie, oor die weg te kom. Dit is deel van die lewe. Somtyds sal jy sukkel en swaarkry, maar dit sal nie altyd wees nie. Druk deur dit.
Soms sal jy meer ure studeer as wat jy slaap, en jou vriende sal jou oortuig om saam met hulle partytjie te hou en jou studies te los. Dit is belangrik om grense te hê en jou doelwitte te prioritiseer. Een aand van lekkerte kan maak dat jy agterraak.
Leer om jou stres te hanteer. Vind maniere en praat met jou maats en familie. Oefen, eet gesond en bly by ’n vaste en produktiewe skedule.
Alhoewel universiteit ’n plek van leer is, is dit ook belangrik om dit te geniet. Sorg dat jy gesond is, dat jy om jou kyk en plesier in die klein dinge vind. Indien jy gelowig is, hou aan glo. Universiteit gaan stresvol wees, jy gaan huil, maar geniet dit en moenie jou emosies wegsteek nie.
Erica Chen
Erica se gunstelingvakke is gewoonlik die vakke waarin sy sleg vaar of sy kan net nie die taal praat nie. Twee interessante feite oor Erica is dat sy Taiwanees is en dat haar hondjie, Teddy, die oulikste is.