Veg, Vries of Vlug? Voorbereid vir jou drafsessie!

[Lynn-Mari Louw]

Jy weet nooit hoe jy in ’n situasie sal optree tot op daardie oomblik nie en dan reageer mense op drie maniere: veg, vries of vlug. Die reaksie is anders vir almal, maar die beste opsie sal natuurlik wees om die situasie heeltemal te vermy.

Scenario: Jy het gisteraand besluit om jou lewe te verander en wil nou begin draf, maar jou ouers is skepties, want die koerante is vol van die gevare wat daarmee gepaard gaan. Wanneer ons oefen, word ons gereeld in situasies geplaas waar ons tussen die drie v’s moet kies, maar wat as daar nog ’n v bykom: voorbereid.  Dit is die v waar jy gereed is vir die situasie in plaas daarvan om daarop te moet wag.

Die maniere waarop ons oefen, verander op grond van die omstandighede waarin ons onsself bevind. Die probleem lê egter by die feit dat daardie omstandighede altyd daar gaan wees.  ’n Plan-van-aksie is jou beste opsie om te verseker dat jy by jou nuwe fiksword-voornemens hou. 

Hier volg vier slim stappe wat jy kan neem voor jy by die deur uitstap.

  1. Beplan

Maak seker jy weet waar en hoe lank jy gaan weg wees – en deel dit met iemand in die huis. Dit help jou om nie net voorbereid te voel nie, maar om ook voorbereid te lyk op die pad. Sou jy ’n paar minute laat wees, kan jou ouers altyd jou roete van die einde af volg en jou opspoor.

  1. Foon

As jy besluit om met jou foon te gaan oefen, is jy ongelukkig ’n teiken. Wees voorbereid deur jou foon weg te steek. Bêre dit in ’n broek- of baadjiesak. Moet nooit met jou foon in jou hand oefen nie. Dit trek onnodig aandag.

  1. Pepersproei

Soms gaan jy jouself moet beskerm. Pepersproei is ’n maklike en doeltreffende manier om voorbereid te wees. Met ’n botteltjie in jou hand, stuur jy ’n boodskap van bewustheid en gereedheid uit.  Weet vooraf hoe om dit te gebruik – en hou voortdurend jou vinger reg. 

  1. Krag in getalle

Indien jy nie pepersproei in die hande kan kry nie, is ’n drafvriend of -groepie ’n goeie alternatief. Moet nou nie jou sesjarige boetie saamvat nie. Neem iemand van jou eie ouderdom of ouer saam. 

Die lewe is ook soos ’n oefensessie: Soms voel jy nie lus om spoed op te tel nie, maar dan begin daardie een liedjie speel en jy kry sommer nuwe asem. Hardloop eerder aan die begin stadig en beplan vooruit sodat, wanneer die laaste 100 meter kom, jy dit die moeite en tyd werd kan maak. En wanneer ’n teenstander jou in die oë staar, sal jy nie veg, vries of vlug nie, maar sommer verby vlieg! 

Lynn-Marie Louw

Lynn-Marie is ’n boekwurm wat hou van kultuur. Sy hou van skryf en stories oor nonsens vertel.