Verbeelding begin met ’n boek

[Mia Nel]

Jy het seker al baie in flieks gesien hoe ’n ouer vir hulle kind of kinders stories lees voordat hulle gaan slaap. Dalk het jou ouer ook vir jou slaaptydstories gelees toe jy klein was. Om gereeld vir ’n kind stories te lees of self te laat lees, afhangend van hul ouderdom, is onsettend voordelig vir hom of haar. Maar hoekom?

Dit is uiters belangrik vir ’n kind om verskillende stories te hoor om hulle taalvaardighede te versterk. Kinders leer hoe om te praat deur na die mense rondom hulle te luister. Boeke brei hul woordeskat uit en leer hulle nuwe maniere om woorde bymekaar te sit. Navorsing het bewys dat kinders wat gereeld stories hoor en lees, blootgestel is aan omtrent 290 000 meer woorde as ander kinders – net teen die tyd wat hulle kleuterskool toe gaan.

Boeke bevorder nie net hulle taalvaardighede nie, maar ook hulle emosionele bewustheid. Dit kan vir kinders van jongs af leer hoe om hulle emosies op ’n gesonde en goeie manier te hanteer. Om boeke vir kinders te lees, is ook ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van empatie. Boeke laat hulle toe om te hoor van mense wat anders as hulle is, wat kinders van ’n jong ouderdom af leer om ander mense, gelowe, kulture en rasse te waardeer en te respekteer.

Ons weet nou dat lees baie voordele vir kinders inhou, maar watter tipe boeke is vir hulle die beste?

Fantasie is beslis ’n belangrike genre. Dit laat kinders toe om hulle verbeelding beter te gebruik en om hul nuuskierigheid te bevorder. Karakters uit fantasieboeke word as rolmodelle gesien, wat selfvertroue verbeter.

Speurverhale is net so ’n goeie genre om vir kinders te lees. Dit bevorder kinders se begrip en ander soorte taalgebruik. Hierdie tipe boeke is vreeslik interessant vir kinders, asook mense van alle ouderdomme.

Volgende keer as jy jou kleinboetie of -sussie op hulle selfone sien, lees eerder vir hulle ’n boek. In ’n wêreld vol geraas, is lees die stilte wat kinders nodig het om te groei.

Mia Nel

Mia is ’n graad 9-leerder wat mal is oor fantasie. Sy hou daarvan om na flieks te kyk en na musiek te luister.