[Mieke Verster]
Daar is min dinge wat so stresvol is soos om ‘n vakansie te beplan. Dit is ‘n feit soos ‘n koei, maar hier is ‘n paar wenke hoe om goed voorbereid te wees sodat jou volgende wegbreek een is om te onthou.
Beplanning is alles
Om vooraf te beplan wat jy wil sien en doen op jou vakansie, is altyd ‘n wenidee. Probeer ‘n kaart maak van al die plekke wat jy graag wil besoek om die beste roete te beplan en sodoende geen tyd te mors deur te soek na plekke nie. ‘n Goeie idee is ook om vooraf te besluit hoeveel geld jy bereid is om elke dag te spandeer en dus te beplan wat jou begroting vir dié lekker tydjie is. Hierdie tipe beplanning sal jou vakansie meer ontspannend maak en ‘n rustigheid oor jou bring.
Organisasie moet jou beste maatjie word
Organisasie is die sleutel tot enige wonderlike wegbreek. Nie net om jou tas reg te pak vir elke dag nie, maar ook om te weet wanneer jy wat wil doen. Organisasie en beplanning gaan hand aan hand en daar is ‘n baie fyn lyn tussen die twee. Nou moet jy al jou beplanning in aksie omsit: Vind uit wanneer die beste tyd is om plekke te besoek en maak solank al jou sente bymekaar. Indien nodig, koop ook vroegtydig jou ander geldeenhede soos euro’s of dollars.
Moenie die hulp van toepassings onderskat nie
Toepassings is iets waarvoor ons generasie baie dankbaar kan wees en dit is belangrik dat ons ten volle daarvan gebruik maak. Hopper is een van hierdie toepassings wat jy definitief in jou agterkop moet hou. Dit gee vir jou skattings wanneer vliegtuigkaartjies gaan duurder word en sê vir jou wanneer die beste tyd is om een te koop. Nog ‘n wenwenk is om Tripadviser te gebruik. Nie net help dit jou om nuwe plekke te ontdek nie, maar dit kan ook ‘n hele reisplan vir jou skep. Met hierdie tipe tegnologie kan jou volgende vakansie vinnig aanmekaar geslaan word en die stres bietjie verminder word.
Alhoewel die meeste mense soveel as moontlik wil sien en doen op vakansie, moenie die hoender ruk nie en onthou om ook te ontspan en die klein goedjies, soos ‘n sonsondergang in ‘n stadspark, te waardeer.
Sien julle op die lughawe!
Mieke Verster
Mieke se gunstelingstokperdjies is om netbal te speel, boeke te lees en om vir 6-jariges gimnastiek af te rig. Haar vriende en familie beskryf haar as entoesiaties en gedrewe en sy pak enige uitdaging met selfvertroue aan.