Visvang, 2-minute noodles en ‘n bietjie krieket

[Etienne van der Merwe]

Dag 1:

Vir die eerste dag het ons gepoog om vroegoggend by die skoolbussie te wees sodat ons ‘n uur speling kan hê, veral omdat ons ‘n wedstryd moes speel voordat ons by Mosselbaai sou aankom. In Riversdal aangekom, het ons vir die eerste keer ons wedstryddrag aangetrek en opgewarm. Ons is ingestuur om te kolf en het hierdie geleenthied ten volle aangegryp. Na ‘n vroeë paaltjie het D’Neill du Toit die vinnigste 100-tal in DF-geskiedenis geslaan. Ons het die wedstryd gemaklik gewen. Daarna het ons die Spar daar naby van omtrent al hulle 2-minute noodles beroof. Dit het ook nie gehelp dat die noedels op afslag was nie! Ons het ‘n week na die toer nog steeds daaraan gesmul. Ons het in die donker uiteindelik by De Bakke Santos aangekom en ons almal  tuisgemaak in die rietdakrondawels wat regtig goeie verblyf is. Na ‘n praatjie deur meneer Brandt en meneer Mells, was dit die juniors se beurt om aan te tree vir ‘n haarsny.

Dag 2:

Die eerste wedstryd is in Mosselbaai gespeel teen Hoërskool Punt. Dit was ‘n T20-wedstryd en nie besonder merkwaardig nie, behalwe vir die feit dat dit gelykop geëndig het. Die juniors kon tydens hierdie wedstryd hulle voete vind en verwelkom word in die span. Die toon is aangegee vir ons vrye tyd besteding wat meestal bestaan het uit baie ure se krieket in die parkie.

Dag 3:

Op dag 3 moes ons weereens douvoordag opstaan om betyds te wees vir die 50 boulbeurte wat weer teen Hoërskool Punt plaasgevind het. Daar was ‘n duidelike verskil in die intensiteit en fokus teenoor die  vorige dag se T20-wedstryd. Dit was ook my eerste 50 boulbeurt-wedstryd vir die eerste span. Dit is toe ook die alombekende dag waarop die nuwelinge se hare moes waai. 

Dag 4:

Met die koms van die nuwe dag het die Punt Krieketfees amptelik begin. Wat dit nou in werklikheid vir ons beteken het, is dat die volgende drie wedstryde 50 boulbeurte elk sou duur. En lekker kos. Elke oggend van die fees het ons vir ontbyt by die koshuis vergader en kon elke oggend behoorlike kos eet, wat ‘n fantastiese verandering van 2-minute noodles was. Die wedstryd teen Outeniqua het ongelukkig uitgereën, maar gelukkig het een van die leerders sy pa sy visvangtoerusting saamgebring. Dit het gelei tot die opleiding van ‘n hele klompie nuwe hengelaars. 

Dag 5:

Sondag is ons Hartenbos toe en het lekker in die son baljaar en ja, strandkrieket gespeel. Later het ons nog buite De Bakke Santos visgevang en te danke aan Allen Nowers se vermoë om vis te verwerk, het ons elkeen darem ‘n vissie per persoon gehad vir aandete.

Dag 6:

Tydens die laaste wedstryd van die fees was ons energievlakke redelik laag. Ons kon egter nog steeds daarin slaag om vir Hoërskool Sentraal ver te wen. 

Dag 7:

Die grootste deel van die toer was nou agter die blad en ons kon met kalmte en selfvertroue die laaste wedstryd aanpak. Toe ons by die pragtige kampus van Nelson Mandela Universiteit (George Kampus) aangekom het, het ons soos ‘n goed geoliede masjien opgewarm. Dit was ‘n baie spannende wedstryd wat heeltyd enige kant toe kon swaai en dit het uiteindelik in Hoërskool Framesby se guns geëindig. Dit was ‘n bitter gevoel om so naby te kom en nie te wen nie. Dit was ‘n ervaring waar ons elkeen goeie herinneringe kon maak en waar die positiewes veel groter as die negatiewes was.

[Foto: DF Krieketspan]


Etienne van der Merwe

Hierdie skrywer is soos ‘n menslike Swiss Army-mes: Hy bons tussen programmering, lees, krieket, wiskunde, ekonomie en debat asof dit geen probleem is nie.