[Mignon Roux]
Die DF-kamerkoor het van die 17de tot die 19de Januarie hul jaarlikse koorkamp by Noordhoek gehad om te oefen aan hulle nuwe, opwindende repertoire. Tussendeur al die oefeninge was daar oorgenoeg tyd vir uitstappies, pret en middagslapies. Die naweek het soos volg verloop …
Dag 1 – Vrydag
Vrydag was daar tyd om na Noordhoek se lieflike Farm Village toe te stap. Tydens hierdie uitstappie het ons roomys geëet en ‘n flashmob vir die kassiere van die winkel gedoen.
Na al hierdie pret was dit tyd om op die rede vir die kamp te fokus. Aan die begin van die oefensessie het die kamerkoor se nuwe lede eers die musiek, wat die ouer lede reeds geken het, aangeleer. Daarna was dit tyd vir die meer komplekse musiek, maar voor ons ons oë kon uitvee, was dit reeds tyd vir ons eerste aandete, wat bobotie was. Aangesien die dag se oefening verby was, het die kamerkoorleiers, Kylie en Ché, voorgestel dat ons speletjies speel om mekaar beter te leer ken. Tydens hierdie speletjie was ons geskok om uit te vind dat meneer Paige nog nooit na The Sound of Music gekyk het nie!
Dag 2 – Saterdag
Na ‘n paar ure se oefening en talle koppies koffie, het ons besluit om terug Farm Village toe te gaan vir nog roomys. Terug by die kampterrein, het ons lekker worsrolletjies vir middagete geëet en dadelik weer begin oefen.
Ons is in groepe verdeel om ‘n mededingende rondte van Song Association te speel en daarna was dit weer oefentyd.
Ons het met die nuwe, opwindende Will Linley medley begin. Die gees het hoog geloop en die drie ure van oefening het soos blits verbygegaan. Vir aandete is ons met Roman’s Pizza bederf.
Dit was uiteindelik tyd om te ontspan, maar meneer Jade het ons verras en ons moes ten minste een rondte van Lantern Bekruip gespeel het. Dit het met ‘n paar beserings geëindig, maar ten minste niks ernstig nie. Almal het op verskillende tye gaan slaap en baie het besluit om op die vloer van die groot saal, waarin ons geoefen het, te slaap.
Dag 3 – Sondag
Juffrou Coetzee het ons vroegoggend met Franse roosterbrood bederf, waarvan daar niks oorgebly het nie. Ons het van nege-uur tot elfuur geoefen en daarna was dit tyd om video’s vir sosiale media te neem. Uiteindelik moes ons ons bagasie oppak en in die bus laai. Ons het gehoop om nog een laaste keer Farm Village toe te gaan, maar ongelukkig was daar nie genoeg tyd nie.
Baie dankie meneer Paige en juffrou Coetzee wat hierdie oefenkamp ‘n moontlikheid gemaak het, asook almal wat ons met vervoer gehelp het. Tot volgende jaar!
Mignon Roux
Mignon is baie lief vir haar twee katte en kyk graag Formule 1 op Sondae. Sy hou ongelukkig baie van Ferrari en spandeer die res van haar week om ‘n beter stokperdjie te soek.