[Andrea van Wyk]
Ons almal het ‘n paar vriende met wie ons lekker kan gesels en met wie ons baie gemaklik is. Maar wat van die awkward tye wanneer jy met iemand praat wat jy nie (regtig) ken nie? Hoekom het jy dán geen idee wat om te sê nie? Hoekom kan jy nie met hulle vriende maak nie?
Dit is ‘n feit dat mense se eerste indrukke van jou, by hulle bly. Jy kan nie met mense vriende maak nie, want hulle eerste indruk van jou is: Awkward en jy het niks om te sê nie. Dis nie dat jy bestem is om net twee vriende te hê nie, jy sukkel dalk net met sosiale- en kommunikasievaardighede.
Daar is wel maniere om dit te verbeter. Hier volg ses van die bestes:
- Moenie te ernstig wees nie
Niemand hou daarvan as iemand met hulle kom gesels en verskriklik ernstig is nie – Dit laat hulle voel asof hulle óók vreeslik ernstig moet wees en hulle wíl nie.
As jy met nuwe mense praat, wees gemaklik, wees vriendelik en lag vir jouself. Mense word aangetrek deur die all-is-well-houding. Dit is aansteeklik. Almal is natuurlik gespanne as hulle met mense praat wat hulle nie goed ken nie en soek onbewustelik net gerusstelling, so neem jý die leiding.
- Moenie bang wees om iets “verkeerd” te sê nie
Mense hou daarvan as jy foute maak. Wat ek daarmee bedoel is: Mense (veral mense wat jy nie goed ken nie) hou van klein glipsies. Hulle hou van die behind the scenes, want dit maak jou meer mens. Dit maak jou real. Dit maak jou authentic. Dit gee hulle die vrymoedigheid om hulself te wees en om met jou te kan connect.
- Vertel embarrassing stories
Laat ek eers “embarrassing stories” definieer: ‘n Oomblik waar jy in die verleentheid gestel is, maar wat nou vir jou snaaks is en waaroor jy nou kan lag – nie ‘n hartseer storie nie!
Ons almal ervaar embarrassing oomblikke – dis deel van menswees. Dit maak nie saak hoe perfek iemand voorkom nie, hulle het beslis al ‘n paar embarrassing oomblikke agter die rug. As jý oopmaak oor jóú embarrassing oomblikke, kan mense makliker met jou connect omdat hulle met jou kan identifiseer; dit skep ‘n gevoel van vertroue en julle kan saam lag.
- Praat oor wat vir jóú interessant is
Een van die beste goed om te sien, is wanneer iemand praat oor iets waaroor hulle baie passievol is: Hulle gesigte helder op en hulle praat met soveel opgewondenheid oor die onderwerp dat selfs as jý nie daarvan hou nie, jy luister en dit jou inspireer.
Dit is baie raar om te sien, so gaan eerste. Wees jy daardie persoon wat so praat oor waarvan jý hou. Solank jy met passie praat, trek en behou jy mense se aandag en inspireer jy hulle om ook passievol te leef. Hulle eerste indruk van jou is dus fantasties.
- Betrek mense by jou stories
Wanneer jy praat, gebruik detail. Gebruik jou sintuie om beter te beskryf wat gebeur het. Vertel wat jy gesien het. Vertel wat jy gehoor het en geruik en geproe en gevoel het. Gebruik jou hande om te beduie en beweeg rond. (Moet net nie oorboord gaan nie.)
Onthou: Jy was daar. Jy ken al die details, maar die ander persoon doen nie – Hulle ken jou nie eens nie. (Hulle besef nie dat dit dalk net die manier is waarop jy praat nie.) Verf vir hulle ‘n duidelike prentjie. Betrek hulle by jou verhaal – Dit maak jou meer interessant en verseker dat mense na jou luister.
- Vra vrae
Mense is mal daaroor om oor hulself te praat – Dit laat hulle voel asof iemand werklik omgee. Hulle voel goed oor hulself en onbewustelik kry hulle die indruk dat jý hulle laat goed voel.
Om vir mense vrae te vra, help ook om hulle beter te leer ken; makliker iets te vind waaroor julle kan identifiseer en om die gesprek aan die gang en weg van ongemaklike stiltes te hou.
3 Wenke om die gesprek aan die gang te hou:
- Gebruik jou omgewing om vrae uit te dink en só die gesprek aan die gang te hou. As julle byvoorbeeld by die snoepie staan, kan jy vir hulle vra wat hulle oor die algemeen daar koop of jy kan uitbrei oor jou ontevredenheid met die pryse van die slaptjips.
- Jy kan mense en hulle persoonlike spasie ongemerk bestudeer en só meer vrae vra wat spesifiek op die persoon van toespassing is. As hulle byvoorbeeld oorfone by hulle het, kan jy vir hulle vra watter tipe musiek hulle graag na luister en terwyl hulle antwoord, kan jy hulle aanmoedig om meer uit te brei.
- As jy die persoon nie goed ken nie, vermy uiters persoonlike vrae – Dit het niks met jou te doen nie. Of as jy iets vra wat dalk te persoonlik vir hulle kan wees, noem dat hulle nie hoef te antwoord as die vraag te persoonlik is nie.
Vriende hê en maak is nie net nódig vir die mens nie, dis ook ‘n baie interessante en opwindende proses. As jy net hierdie paar tegnieke in jou alledaagse lewe beoefen, sal jou sosiale- en kommunikasievaardighede baie verbeter en verseker dat jy sommer baie vriende het.
Andrea van Wyk
Andrea (An3a) verteenwoordig ‘n gelukkige bondel energie. Jy sal haar heel waarskynlik langs die sportveld vind in haar noodhulphempie reg om enige besering te behandel – fisies of emosioneel.